Padgebruikers moes Maandag laatmiddag (15 Julie) inderhaas op die Polkadraai-pad omdraai nadat skote heen en weer op die pad geskiet is.

Die Stellenbosch-polisie het bevestig ’n transito-rooftog het Maandag laatmiddag op dié pad, naby die Skilpadsvleiwynplaas, plaasgevind.

Motoriste moes noodgedwonge op die besige pad omdraai en in die rigting van Stellenbosch terugkeer, terwyl skote duidelik gehoor kon word.

Die pad was van Maandagaand tot Dinsdagoggend vroeg gesluit met die polisie en verkeersbeamptes wat op die toneel was.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Die Stellenbosch-polisie het bevestig die saak word deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, die sogenaamde Valke, hanteer.

’n Woordvoerder vir die Valke het bevestig die verdagtes het met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

Volgens die polisie is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.