“Ons kan bid en pleit, maar dit alleen gaan nie Cloetesville red nie.”
Dít was ‘n Cloetesville-inwoner se siening nadat die soveelste inwoner die afgelope naweek in hierdie buurt doodgeskiet is. Skietery in Cloetesville is byna ‘n daaglikse verskynsel.
In die jongste voorval is ‘n man vroeg Sondagoggend (16 Maart) in Pinestraat doodgeskiet. Nog ‘n jong man is in die voorval beseer en na die plaaslike hospitaal gehaas.
Talle inwoners voel die voortslepende geweld sal so aanhou aangesien noodkrete aan die polisie en die Stellenbosch-munisipaliteit “op dowe ore val”.
Die Cloetesville-polisie sê die slagoffer is om 06:00 noodlottig geskiet. Die omstandighede oor die skietery asook die motief word nog ondersoek.
“Die tweede slagoffer is in die voorval gewond. Hy het ‘n skietwond aan sy linkerbobeen opgedoen,” bevestig ‘n polisiewoordvoerder, AO Zenabia Sedeman.
Vreedsame optogte en biddae blyk nie veel uitwerking op die situasie te hê nie en sommige inwoners meen ‘n drastiese stap, soos om die weerwag in te kry, is al wat sal help.
“Cloetesville is gatvol. Ek dink ons sal binnekort by die punt wees waar die gemeenskap die reg in eie hande neem, en waar gaan ons dan wees? Die polisie bly vra dat die gemeenskap vir hulle inligting gee, maar wanneer ons inligting deurgee, kom daar niks van nie. Sake loop net dood. Hoe werk dit?” het ‘n gemeenskapsaktivis onlangs aan Eikestadnuus gesê.
Volgens die Cloetesville-polisie doen beamptes en hul misdaadvoorkomings-vennote intensiewe patrollies om skietvoorvalle soos dié van Sondag te voorkom. “Die gemeenskap word weer eens aangemoedig om enige inligting aan die polisie te gee. Alle oproepe en inligting sal anoniem hanteer word,” sê Sedeman.
Sy voeg by inligting uit die gemeenskap is skraps, terwyl inwoners ook kla dat niks aan die voortslepende geweld gedoen word nie.
Verskeie faktore vererger glo die bendegeweld in die buurt. Volgens die polisie moet die departement van justisie ook ‘n deel van die skuld dra, aangesien talle misdadigers weer terug in die gemeenskap geplaas word, wat in seker opsigte die geweld vererger.
‘n Ma van Cloetesville sê in die byna vyf dekades wat sy al in Stellenbosch woon, was die skietery “nog nooit so erg nie”.
“Niks noemenswaardig word gedoen nie. Die mense voer ‘n skrikbewind in ons gemeenskap en hulle gebruik ons kinders! Niemand voel meer veilig om selfs winkel toe te stap nie. Daar is groepies kinders wat elke dag vir die skurke deur die strate beweeg,” sê sy.
By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, gesê veiligheid in Cloetesville bly ‘n voorkeur. Hy sê in dié verband word gesamentlike optredes weekliks by die Stellenbosch-veiligheidsvennote (SSP) se vergaderings beplan.
“Hierdie samewerking tussen die Cloetesville-polisie, spesialis-polisie-eenhede soos die Teen-bende-eenheid en Openbare Orde-polisie asook munisipale wetstoepassers, is gerig op die bekamping van bendegeweld en misdaadvoorkoming in die gebied,” sê Grobbelaar.
“Deurlopende, sigbare patrollies en gesamentlike misdaadvoorkomingsoptredes speel ‘n sleutelrol in dié strategie. Die gereelde teenwoordigheid van wetstoepassers en die polisie help om ‘n veiliger gemeenskap te skep en misdadigers af te skrik. Daarbenewens is ‘n spesialiteitsvoertuig reeds ontplooi en dit sal aanhou gebruik word as deel van die geïntegreerde benadering tot misdaadbekamping.”
Volgens die munisipaliteit beklemtoon die gekoördineerde pogings ten gunste van misdaadbekamping “die toewyding van alle betrokkenes om Cloetesville vir sy inwoners veiliger te maak”.
“Dit help ook nie dat inwoners die Cloetesville-polisiebeamptes, hul voertuie en selfs paramedici met klippe bestook wanneer hulle op ‘n toneel is nie,” sê Sedeman.
Sy doen ‘n beroep op inwoners om saam te werk, nie misleidende inligting te verskaf nie en met wetstoepassers hande te vat.
Inligting oor misdaad in en om Cloetesville en Idasvallei kan met die volgende beamptes gedeel word:
- Stasiebevelvoerder: lt.kol. Monique Fortuin by 082 411 2911;
- Vispol-bevelvoerder: kapt. Sabelo Sinyeke by 082 443 6892;
- Speurderhoof: kapt. Rian Wiese by 082 778 9952
- AO Zenobia Sedeman by 082 4112915; en
- AO Tania Wells-Allen by 082 522 3216.