e’Bosch in samewerking met Matie-gemeenskapsdiens van die Universiteit Stellenbosch bied ’n gemeenskapsleierskapkursus aan. Die kursus is ook vir enigeen in die gemeenskap om in te skryf. e’Bosch borg 15 plekke op die kursus vir geselekteerde mense uit die 14 dorpies van Stellenbosch.
“Die kursus vir vanjaar spog met die beste praktyke van geïntegreerde leerervaring van individuele leer, groepsleer en ervaringsleer. Die in-persoon-onderrig en assesserings gaan aanlyn asook in die Ou Lückhoff-gebou plaasvind. Hierdie program maak elke jaar ’n groot impak in die Stellenbosch- en die omliggende gemeenskap,” sê dr. Sias Mostert, voorsitter van e’Bosch se direksie.
“Met meer as ses jaar van samewerking tussen die US en e’Bosch is daar reeds talle leiers in gemeenskappe van die omliggende gebied. Hierdie kandidate het die kursus voltooi en geleer hoe om leierskap te neem om die ontwikkeling van hulpbronne, talent asook kulturele erfenisprojekte te verbeter. Die Cloetesville Women Empowerment- projek het uit hierdie kursus ontstaan,” sê Carol Lakay van e’Bosch.
Die e’Bosch-gemeenskapleierskapkursus begin op 5 April en eindig in Augustus. Plekke is beperk en belangstellendes in vanjaar se kursus word genooi om so gou as moontlik aanlyn te registreer.
Die kursus is gebou rondom die Advanced Engaged Citizenship-kursus van Matie-gemeenskapsdiens. Inskrywingsgeld is R2 500 per persoon. e’Bosch borg 15 plekke vir kwalifiserende aansoekers. Aansoeke moet insluit ’n kort profiel van gemeenskapsbetrokkenheid en moet teen vandag, 31 Maart, ontvang word.
Lees meer oor die MGD-kursus aanlyn of kontak e’Bosch vir navrae en registreer by https://shortcourses.sun.ac.za/application-form.
“Die e’Bosch-erfenisprojek is in 2011 gestig en werk saam met lede van die 14+ dorpies om leiers wat gemeenskappe verander te ontwikkel.
“Die leiers werk saam wat betref die erfenisbates in die gemeenskap en so plant hulle hul nalatenskap in Stellenbosch se wortels vir die toekoms.”