Die gewilde Dagbreek-straatmyl in Victoria-straat, Stellenbosch sorg vanjaar weer vir opwinding. Foto: Charmaine Sander Photography
Die gewilde Dagbreek-straatmyl in Victoria-straat, Stellenbosch sorg vanjaar weer vir opwinding. Foto: Charmaine Sander Photography

Die 15de Dagbreek-straatmyl beloof om vanjaar ‘n baie spesiale geleentheid te wees, met twee atlete wat op die dag tot die Suid-Afrikaanse Heldesaal ingehuldig word – die hoogste erkenning vir ‘n Suid Afrikaner.

Die twee atlete wat tydens die byeenkoms vereer sal word is De Villiers Lamprecht en Johan Fourie. Lambrecht was die eerste SA-atleet om ‘n droommyl te hardloop, op 13 November 1964 te Coetzenburg, Stellenbosch. Hy was – en is steeds – die enigste persoon om dit kaalvoet te doen en was ook die eerste atleet van die Afrika-vasteland om ‘n droommyl op die Afrika vasteland te hardloop.

Fourie spog met 53 droommyle, die meeste deur enige SA-atleet, en is ook die enigste atleet ter wêreld wat twee droommyle in ‘n uur kon hardloop. Hy was ook die wenner van die eerste straatmyl wat op 27 Desember 1982 in Port Elizabeth (nou Gqeberha) aangebied is.

Die jaarlikse Dagbreek-straatmyl word jaarliks ter ere aan De Villiers, ‘n oud-Dagbreker, aangebied. Hy is verlede jaar in Desember 2024 oorlede. “Wat die dag soveel meer spesiaal gaan maak is dat De Villiers se 17-jarige kleinseun, ook De Villiers Lamprecht, al die pad van Bloemfontein kom, om aan sy eerste Dagbreek-straatmyl deel te neem,” sê die organiseerder Francois Fouché.

“De Villiers is in Grey Kollege en sal deelneem aan die o.19-wedloop. Sy afrigter is DB Prinsloo wat ook die afrigter van Johan Cronje, wat die ope-wedloop drie keer gewen het, was. Hy het onlangs die 1 500 m-wedloop in ‘n tyd van 3:55.60 by die Streek 5-jeugspele in Swakopmund gewen, asook goud in die 800 m.”

Die Dagbreek-straatmyl is deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees en word Woensdag 15 Oktober om 16:30 in Victoriastraat, Stellenbosch aangebied.

Die mans ope-wedloop gaan weer vir baie opwinding sorg, veral met Luan Munnik, die huidige SA senior man’s 1 500 m-kampioen wat reeds ingeskryf het. Munnik is ook die het ook die 1 500 m-wedloop vir man’s by die studente kampioenskappe gewen en is deel van die SA-span wat vandeesmaand aan die Studente Spele in Duitsland deelneem. “Sal dit derde keer skeepsreg wees vir Luan? Hy was tweede in 2020 en derde in 2021, en spog met ‘n persoonlike beste tyd van 3:35.66,” sê Fouché.

Munnik kan wel sterk kompetisie verwag van die verdedigengde kampioen, Deonlee Hendricks, wat ook in 2023 eerste oor die wenstreep was. “As hy wen sal hy die eerste atleet wees om die wedloop drie keer in ‘n ry te wen,” sê hy.

“Hendricks het verlede Oktober die 10 km Peace Run van die Kaapstad-marathon gewen en was die middelpunt van die film Langafstand wat by die Silwerskermfees geprimêr het.”

Benewens die man’s wedloop, is daar ook die ope-vrouewedloop, is daar ook wedlope vir o.13-, o.15 en o.19-atlete (seuns en meisies), meesters, skaatsplankry en die pretmyl. Weens die groei van die jaarlikse byeenkoms is vier nuwe afdelings bygevoeg: o.10-seuns en meisies en meesters vir atlete ouer as 50 jaar.

• Vir navrae, kontak Fouché 083 368 5948 of [email protected].

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article