Kan jy toor met ’n skeermasjientjie en ’n skêr en enige haarstyl onder die son skeer? Dan word jy genooi om jou vaardighede by Aidon’s Barbershop se Barbier-kompetisie ten toon te stel.
Die kompetisie vind op 29 Oktober tussen 15:00 en 20:00 by die Van der Stel-sportklub plaas.
Volgens Aidon Amos, eienaar van Aidon’s Barbershop, is die doel van die kompetisie om barbiers bymekaar te bring om hul vaardighede uit te leef. “En om hulself te verbeter en om ander te inspireer om ook hul talente uit te leef, asook om goeie verhoudinge met ander in dieselfde bedryf te bou,” sê Amos.
Wie word genooi? “Enigeen wat hare kan sny, of dit tuis is of in ’n professionele omgewing, kan inskryf. Die kompetisie werk soos volg: Daar is vyf kategorieë waarin 50 barbiers kan deelneem, 10 per kategorie.
“Elkeen bring sy eie model wie se hare hy gaan sny; as iemand nie een het nie sal ons een voorsien,” sê Amos. Inskrywings kos R200 per kategorie.
Hy sê hy wil met hierdie kompetisie barbiers op Stellenbosch bymekaar bring om mekaar te leer ken en om op ’n prettige manier ook blootstelling aan mekaar te gee.
“Toeskouers betaal R50 om te kom kyk en daar gaan ook verversings te koop wees. Toeskouers kan ook gratis hare laat sny en talle pryse is op die spel.”