Geskryf deur ’n Pniël-boorling, deels oor Pniël en gedruk in Pniël – dit is dr. Eleanor Damon se jongste boek.
Met meer as agt selfgepubliseerde boeke agter haar naam het Damon nog vele stories om te deel. Haar boeke handel oor so te sê alles van navorsing oor familiegeskiedenis tot onderwysstories.
Haar jongste boek, Stofpad, vertel van haar vele reistogte, van Pniël se gangetjies in haar jong dae tot ’n ramp met akkommodasie in New York.
Damon het verlede Donderdag (12 September) Stofpad by Pniël se biblioteek bekendgestel en kopieë van haar boeke aan die biblioteek geskenk.
“Ek hou daarvan om rond te flenter. Ek hou van reis. Ek het reeds ses vastelande besoek. Ek het geen begeerte om na die koue Antarktika te gaan nie – en in Stofpad het ek al my verhale van die vastelande vasgevang. Ek kan lang stories vertel met baie detail en ek kan langdradig wees, maar indien ek vinnig iets wil sê, gebruik ek gedigte, en so het ek ook in hierdie boek gedoen,” sê Damon.
Ten spyte daarvan dat Damon niks van opstel skryf op skool gehou het nie, het haar liefde vir studeer en navorsing later in skryf ontaard, met al die navorsing wat gedoen moes word.
Ná dekades in die onderwys het Damon in Stofpad haar eie en ander se lewensverhale vasgevang.
“Ek het vyf jaar in die Overberg gewoon en daar wou ek ook al die plekkies sien. Ek ry alleen uit, want ek wil met my gedagtes wees en dit geniet, stop wanneer ek wil of honger is,” vertel sy.
Een van haar reistogte was na Elim.
Damon sê geskiedenis moet vir toekomende geslagte vasgevang word. Sy sê ook enigeen kan dié taak aandurf. Sy help ook graag ander om hul stories in boeke te laat druk. “Jy moet Lanquedoc se geskiedenis neerskryf,” het sy een van die bywoners by die bekendstelling aangemoedig.