Skryf nou in vir talentefees

,

Mintens R10 000 se prysgeld is vanjaar vir deelnemers aan die e’Bosch-talentefees 2025 beskikbaar. Dit is buiten die betaling wat finaliste vir hul deelname aan die galageleentheid op Erfenisdag (24 September)sal […]


Mintens R10 000 se prysgeld is vanjaar vir deelnemers aan die e’Bosch-talentefees 2025 beskikbaar.

Dit is buiten die betaling wat finaliste vir hul deelname aan die galageleentheid op Erfenisdag (24 September)sal ontvang.

Die e’Bosch-talentefees 2025 word geborg deur die Nasionale Lotery-kommissie, Wesgro en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.

“Hierdie prysgeld sal oor die verskillende afdelings verdeel word, naamlik musiek (kontemporêr, gospel, jazz, hip-hop), poësie, storievertelling, skerpskerts en oorspronklike skeppings,” sê Anthony Penderis, die projekbestuurder van die talentefees.

“Daarbenewens is toegang vir almal en veral leerders heeltemal gratis – in ‘n poging om jong talent aan te moedig.”

Penderis sê onskrywings kan maklik aanlyn gedoen word, waar kunstenaars hul demo-video’s kan laai.

“Maar so veel as wat hierdie fees oor die tentoonstelling van vaardighede gaan, gaan dit ook oor bemagtiging om opkomende kunstenaars te help om ‘n pad na sukses uit te kerf,” voeg hy by.

“Finaliste sal nie net optree nie; hulle sal groei. As deel van die ervaring sal hulle eksklusiewe werksessies bywoon, wat deur Marthie Hauptfleisch, ‘n bekwame musiekdirekteur, aangebied word.

“Dit is ontwerp om onafhanklike kunstenaars met noodsaaklike verhoog-etiket, bedryfsinsigte en strategieë om ‘n volhoubare kunste-loopbaan te bou, toe te rus,” sê Penderis.

Om in te skryf, is eenvoudig – deelnemers moet ‘n drieminuut-demovideo (maksimum 50MB, in portretformaat) indien, wat aan ‘n paneel beoordelaars voorgelê sal word.

Diegene wat na die tweede ronde deurdring, sal na oudisies by die Drostdy-teater op Saterdag 21 Junie genooi word. Van hier af sal die finaliste gekies word om by die groot gala-geleentheid op Erfenisdag op te tree.

Die sluitingsdatum is Saterdag 14 Junie en die finaliste vir die tweede ronde word op Maandag 16 Junie aangekondig.

Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by https://forms.gle/y3hQHxcUSUkWHsBj6 of via die QR-kodes op e’Bosch Talent se TikTok (@eboschtalent), Instagram (@ebosch_heritage_project), en Facebook (/eBoschHeritageProject).

• Vir meer, kontak 061 595 4085 (WhatsApp) of stuur ‘n e-pos na talent@ebosch.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.