Elsa-Marié van der Watt, ’n graad 9-Bloemhoffer, het met ’n besoek aan Oxford in Engeland gesien die John Locke-stigting nooi denkers uit om vir die jaarlikse opstelkompetisie in te skryf.

Elsa-Marié het nie net ingeskryf nie, maar die kortlys gehaal en Vrydag 14 September ’n prysuitdelingseremonie by ’n gala-aand in Oxford se Lady Margaret Hall bygewoon.

Inskrywings is uit 102 verskillende lande ontvang en skrywers kon onderwerpe uit een van vier kategorieë kies.

“Dit was ’n fantastiese ervaring wat ek vreeslik baie geniet het,” sê Elsa-Marie, wat besluit het om ’n onderwerp in die kategorie regte en politiek aan te pak waarin sy oor die gepaste straf vir diktators wat aan oorlogsmisdade skuldig is, moes besin.

Sy sê sy moes deeglike navorsing vir die opstel doen, buite die boks oor terme soos “geregtigheid” dink en saans tot ná middernag daaraan skryf.

Verder was sy een van slegs vier skrywers wat gevra is om ’n verkorte weergawe van haar opstel by die prysuitdeling voor te lees. Hoewel sy nie die opstelkompetisie gewen het nie, het sy onder die topvyf in haar kategorie geëindig en was een van sowat 20 skrywers uit al vier kategorieë wat ’n “Very High Commendation” toegeken is – ’n merkwaardige prestasie as ’n mens in ag neem dat sy die jongste deelnemer op die kortlys was.

“Die gogga het my nou beslis gebyt,” meen dié jong skrywer. “Ek beplan om nog vir baie toekomstige opstelkompetisies in te skryf.”

You need to be Logged In to leave a comment.