Skrywers volg die ‘Voetspore’ uit Dwarsriviervallei

’n Groep skrywers van die Dwarsriviervallei het die afgelope naweek hul tweede gesamentlike bundel met trots bekendgestel.


’n Groep skrywers van die Dwarsriviervallei het die afgelope naweek hul tweede gesamentlike bundel met trots bekendgestel.

Voetspore 2, ’n versameling van kortverhale en gedigte deur lede van die Pniël-skryfskool, is Saterdag (30 September) met groot opwinding en feesvierings in die Pniël Congregational-kerksaal aan gaste voorgestel. Die boek, wat onder sy skrywers as Baby Blue bekendstaan, is opgedra aan elke trotse Pniëler van die hede en die verlede. Dis spesiaal geskryf ter viering van die Congregational-kerk se 180ste bestaansjaar.

Die kerksaal is op die dag feestelik in skakerings van koningsblou, poeierblou en wit opgetooi om die kleurskema van Baby Blue te beklemtoon.

Die skrywer Dennis Cruywagen het as programbestuurder opgetree en Matty Cyster van Pniël Erfenis en Trust (PEKT) het die gaste verwelkom en ’n kort, insiggewende oorsig gegee oor die ontstaan en werksaamhede van die skryfskool.

Merle Danhouse, wat as gasspreker opgetree het, het op haar beurt die veld van skryf en self-publikasie se opdraande stryd in die literêre wêreld waar erkenning skraal is, beklemtoon. Sy het ook die meriete en voordele van “saamskryf” uitgewys en die Pniël-skryfskool gelukgewens met hul tweede bekendstelling in slegs twee jaar.

Die Voetspore 2-skrywers het beurtelings hul gedigte voorgedra of ’n uittreksel uit hul kortverhaal gelees.

“Die goue draad wat deur al die onderwerpe van die gedigte geloop het, was voetspore van trots, heimwee en omgee vir mekaar,” het Gameeda Henry, samesteller van die bundel, gesê.

“ ‘Speletjies van destyds’, ‘Boodskappies van bekendes’, ‘Die kerkklok’, ‘Harmony Park’ en ‘My Hero’ was van die titels [in die boek]. Die temas van die kortverhale het gesentreer rondom verwerping, haweloosheid, verslawing, gentrifikasie, romanse, dorpsgeskiedenis, omgewingsbewustheid en gestremdheid.”

Gaste is ook meegesleur met musiek uit die boonste rakke deur plaaslike kunstenaars, met een van die skrywers, Wilma Josefs, wat veral met die Leona Lewis-liedjie “Footprints in the sand” verras het.

Kyla Philander en Bianca Anthony het liedjies oor Pniël, wat geskryf, getoonset en begelei is deur Purdon Simpson, gesing.

Die Pniël-skryfskool-voorsitter, Florence Phillips, het die ATKV, Vriende van Afrikaans en PEKT vir hul bydrae tot die bundel bedank, die fasiliteerders, dr. Diana Ferrus en Anzil Kulsen, wat die skrywers met hul kundigheid ondersteun het, asook Henry as samesteller van die bundel.

“Dwarsriviervallei-inwoners kan met rede trots wees op die uitstekende groep skrywers wat hulle opgelewer het, wat permanensie en voortsetting aan die voetspore van hul voorouers kon gee, hul nalatenskap só op dié wyse te kon huldig, te eer en te waardeer,” het Henry afgesluit.

  • Kontak Samantha by die Pniël-museum by 021 885 2645 om ’n kopie van Voetspore 2 teen R150, R180 of R220 te koop.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.