Talle Suid-Afrikaners wat aan trauma blootgestel word en aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ly, ontvang nie altyd die behandeling wat hulle nodig het om verlammende en belemmerende terugflitse, nagmerries, stres en angs te hanteer nie.
Hulle ontvang nie dié broodnodige behandeling nie, as gevolg van oorbelaste openbare gesondheidsorgdienste en probleme om toegang tot hierdie dienste te verkry wanneer dit wel beskikbaar is.
In hierdie omstandighede bied ’n berader-gesteunde PTSV-afrigter- mobiele toepassing (PTSD Coach-CS) hoop aan PTSV-lyers. Hierdie vrylik beskikbare selfoontoepassing kan help om toegang tot psigiatriese sorg te verbreed en van die hindernisse vir behandeling te oorkom.
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Amsterdam (UvA) het die haalbaarheid en doeltreffendheid van ’n PTSD Coach-CS-intervensie van vier sessies geëvalueer wat ten doel gehad het om PTSV, depressie, angs en stressimptome in ’n groep volwassenes met PTSV, wat in ’n gebied met beperkte gesondheidsorghulpbronne woon, te verminder.
Die span het bestaan uit die hoofnavorser, dr. Erine Bröcker, en dr. Sharain Suliman, prof. Martin Kidd, Lyrése Greyvenstein en prof. Soraya Seedat van die departement psigiatrie aan die US, asook prof. Miranda Olff van die departement psigiatrie aan die UvA.
Hul bevindings is onlangs in Cambridge Prisms: Global Mental Health gepubliseer.
Die navorsers sê volgens hul wete was dit die eerste keer dat die toepassing, wat in 2011 in die VSA bekend gestel is, in Suid-Afrika geëvalueer is. Ook nuut was die gebruik van minder gespesialiseerde geestesgesondheidsdienste (geregistreerde beraders eerder as psigiaters of sielkundiges).
Die PTSD Coach-toepassing is op deelnemers se slimfone afgelaai en hulle is van mobiele data voorsien. Hulle het vier weeklikse berader-gesteunde sessies van 30 tot 40 minute elk bygewoon, met die fokus op die opstel van ’n doenlys vir die sessie; die insameling van terugvoer oor die laaste sessie; hersiening van die week (navraag doen oor die frekwensie van die gebruik van die toepassing gedurende die week) en huiswerk (die gebruik van toepassing-hulpmiddels); toegang tot en gebruik van geselekteerde simptome en hulpmiddels, met die berader wat beskikbaar is om te help met taal- en tegniese probleme; en ooreenkoming oor huiswerk vir die volgende week (die identifisering van instrumente vir verdere verkenning).
Deelnemers is aangemoedig om die toepassing buite die sessies te gebruik en die materiaal wat in elke sessie gedek is, te hersien. ’n Gekwalifiseerde kliniese sielkundige het alle deelnemers se reaksie op behandeling vir PTSV-, depressie-, angs- en stres-simptoomveranderinge op verskeie stadiums voor en ná die behandeling gemonitor.
Volgens die navorsers toon die resultate van hul studie dat PTSV en stressimptome met verloop van tyd in die PTSD Coach-CS-groep verbeter het.
“Die deelnemers was positief oor die berader-gesteunde intervensiesessies en het die toepassing daagliks tot vyf keer per week buite die sessies gebruik. Hulle het die toepassing as matig tot baie nuttig beskou en was oor die algemeen baie tevrede daarmee. Hulle het ook matig tot hoogs seker gevoel oor hul vermoë om PTSV-simptome te bestuur,” verduidelik die navorsers.
“Die gebruik van die toepassing het hulle ’n manier gebied om te praat oor wat hulle ervaar het en om meer oor die behandeling van PTSV te leer. Ons bevindings dui daarop dat ’n vrylik beskikbare geestesgesondheid-gefokusde selfoongebaseerde intervensie ’n haalbare, geskikte en potensieel doeltreffende behandelingsalternatief vir volwassenes met PTSV in gebiede met beperkte hulpbronne is.”
Volgens hulle hou geestesgesondheid-gefokusde selfoongebaseerde intervensies, soos die PTSD Coach-toepassing, belofte in aangesien dit groter kapasiteit vir ondersteuning bied, onmiddellik beskikbaar is, anoniem en privaat kan wees en kostedoeltreffend blyk te wees.
Die navorsers sê die resultate ondersteun die bruikbaarheid van die toepassing in ’n gemeenskap met beperkte gesondheidsorghulpbronne en benadruk dat dit nie bedoel is om professionele geestesgesondheidsorg te vervang nie.
Hulle benadruk ook die behoefte aan verdere studies in groter steekproewe om die doeltreffendheid van die PTSD Coach-CS-intervensie in die vermindering van die graad van PTSV en onderliggende simptome ten volle te bepaal.
Die navorsers voeg by dat dit ook belangrik sal wees om metodes te oorweeg wat behandelingshindernisse in Suid-Afrika verder kan oorbrug, soos om die intervensie by primêre gesondheidsorgklinieke in die gemeenskap te evalueer om vervoerprobleme te beperk.
“Die inkorporering van die PTSD Coach-toepassing in gewone sorg kan ook ondersoek word om ondersteuning te bied terwyl pasiënte op waglyste is, of tussen sessies en nadat hulle sorg ontvang het.”
Meer oor PTSD Coach-CS
• In 2011 deur die Amerikaanse departement van verdediging en veteraansake bekend gestel; in 2018 bygewerk.
• Selfbestuurstoep vir volwassenes wat aan trauma blootgestel is.
• Gratis en vryelik beskikbaar ná aflaai.
• Vereis nie ’n internetverbinding nadat dit afgelaai is nie.
• Gebruik beperkte telefoongeheue (130 megagrepe).
• Geskik vir sig- en gehoorgestremdes.
• Toepassingskenmerke word in vier kernfunksies verdeel: leer (psigo-opvoeding oor PTSV-simptome); volg vordering (metodes vir individuele simptoomnasporing en terugvoer oor vordering wat gemaak is); bestuur simptome (hulpmiddels om PTSV-simptome te bestuur); en bekom ondersteuning (leer oor en identifiseer professionele behandelingsdienste).
• Kan by iStore of Google Play Store afgelaai word.