Hulle was geliefd onder almal met wie hul paaie gekruis het. Hulle was lewenslustig, liefdevol en geesdriftig.
Dís hoe familie van Ethan Kirland (19) en Leila Lees (18) dié jong paartjie, wat die afgelope naweek tragies in wat vermoedelik ’n ongeluk was, gesterf het.
“Leila was ’n liefdevolle jong vrou, bruisend van lewenslus, kreatief en ’n ware omgee-mens,” vertel Lees se oupa, die joernalis en redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez.
“Sy en haar suster, Mila, het onlangs by my kom eet en ek het my weer verwonder aan watter talentvolle, empatiese, aantreklike kleinkinders ek het. Hul ma, my dogter, Annene, moet die meeste krediet kry. Annene is ’n besonderse kruising tussen hippie en kryger en ’n fantastiese ma.”
Volgens Du Preez het Mila Sondagoggend agtergekom Leila het nie by die restaurant waar sy werk, opgedaag nie. Hulle het haar die Vrydagaand net voor middernag laas gesien toe sy saam met Ethan by ’n restaurant weg is.
“Leila se dood is ’n verskriklike ding wat met ons familie gebeur het – veral met Annene en Mila. Sy was net 18. Ek kan nie ophou dink wat sy sou kon geword het nie; watter bydrae sy tot die mensdom sou gemaak het nie. Die manier waarop haar vriende en die breër gemeenskap in Stellenbosch op haar dood gereageer het, sê baie van wie sy was.
“Ons taak as ’n familie is nou om Annene en Mila styf in ons harte te hou en met liefde en begrip te omvou. Dit geld ook vir Leila se beste vriendin en niggie, my seun John se dogter, Yasmin, met wie sy ’n woonstel gedeel het. Die trauma is baie diep en groot. Niemand wat Leila geken het, sal haar ooit vergeet nie,” het Du Preez bygevoeg.
Paul Midlane, Kirkland se pa, sê hy was ’n wonderlike seun wat baie geliefd was. “Hy was die sonskyn in ons lewens. Hy het die vermoë gehad om enigeen te laat lag.”
Midlane was by die plaaslike polisiekantoor toe die wrak ontdek is.
“Ek het die Sondag, toe ons hoor hulle is vermis, dadelik deurgekom. Ons het gehoop hulle lewe nog.
“Ons moet nog sy negejarige broer van sy dood vertel. Hulle was baie na aan mekaar. Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons as familie.”
Midlane sê as daar een goeie ding is wat ’n mens uit die hele voorval kan leer, is die hoop dat die eienaar die perseel waar die lyke gevind is, dit ordentlik sal omhein. “Ek hoop dat die eienaar iets daaromtrent sal doen sodat dieselfde ding nie met iemand anders gebeur nie. Een ongeluk is te veel.”
’n Nagwaak word vanaand (Donderdag 27 Oktober) op wat Lees se 19de verjaardag sou wees, by die Rooiplein gehou ter nagedagtenis aan die paartjie.
Hul lyke is Maandagoggend in ’n gruisgat op die hoek van Bird- en Paul Krugerstraat gevind.
Die wrak is sowat 200 m vanwaar Kirkland by die The Niche-woonstelle gewoon het, gevind.
Hulle is laas by dié woonstelle gesien.
“Die polisie is omstreeks 10:10 na die toneel ontbied, waar slegs die wiele van die motor bo die water sigbaar was,” het ’n polisiewoordvoerder, kapt. Nathalie Martin, gesê.
“Die duikeenheid van die polisie is ontbied en die liggame van die oorledenes is uitgehaal. Albei slagoffers is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.”