Die Desseyn-familie het oor die dekades diep spore in Stellenbosch getrap en is bekend vir hul bobaas-vleis en vriendelike diens, maar Bert Desseyn sê hy laat nou die bekende Birdstraat-slaghuis in bekwame hande.
Bert het oor die jare die slaghuis, deesdae in die Stelmar-sentrum, stuk vir stuk oorgekoop nadat hy in 1988 daar begin werk het.
Bert se pa, Raymond, het destyds na die Eikestad gekom om sy familie uit te help wat destyds drie slaghuise en ’n polonie-fabriek besit het. Desseyn sr. is opgelei by ’n Belgiese slagskool en het sy vaardighede hier kom toepas om sy oom, Cyril Hosten, te help. Die besoek vanuit België het toe in 1956 ’n permanente verblyf geword en die Birdstraat-slaghuis is gevestig.
“Hy het eintlik net gekom vir ’n vakansiewerk en is toe nooit terug nie. Toe het my ma oorgekom en hulle is getroud. Sy was die een wat voor in die winkel gestaan het,” vertel Bert.
Saam het die paar aan vier Suid-Afrikaners die lewe geskenk – twee seuns en twee dogters – en jare lank die onderneming bedryf.
Bert het onlangs besluit om vleis vir vis te verruil en ná 20 jaar sonder vakansies het hy besluit om die onderneming aan Let’s Meat te verkoop. Hy meen dit is tyd vir nuwe bloed.
“Ek is moeg,” sê hy skertsend.
Al sien hy uit na sy tyd in Bettysbaai, sê Bert hy sal veral die getroue klante mis.
“Ons het families wat jare lank daagliks hul vleis hier koop. Dit is ’n geval van die oumagrootjie het hier gekoop, toe die ouma, later die kinders en nou die kleinkinders – die hele spul. Almal is al hier deur.
“Ek glo altyd jy moet jou prys vra, maar jy moet ’n gehalteproduk gee. Dit help nie jy probeer goedkoop verkoop en dan koop hulle net een keer by jou en is ongelukkig nie,” meen hy.
Deel van Bert se jare lange wenresep was om ’n bietjie van alles te verkoop. Dit is veral die gerookte produkte en die kouevleis wat selfgemaak is wat klante keer op keer laat terugkeer het.
Bert sê dit is beter om ’n hele karkas aan te skaf en alles te verkoop. “Daar is die armer mense wat die pootjies koop en die rykes wat die filette koop. Jy moet ’n gehaltediens aan almal kan bied en sorg dat hulle terugkom. Jy moet al jou klante ewe goed oppas en wanneer hulle dit sien, waardeer hulle dit. Vir daardie armer persoon is dit duur om R10 se vleis te koop, maar vir die welaf persoon is dit dalk niks.”
Dié filosofie van Bert blyk iets te wees wat hy van sy pa geërf het, aangesien Raymond as Belg nie noodwendig veel gedink het van die politieke voorskrifte van die tyd nie en al sy kopers dieselfde hanteer het.
Nou geniet Bert sy dae tussen Stellenbosch en Bettysbaai waar hy visvang en tyd op die boot met sy vriendin deurbring. “Ek het altyd gesê ek gaan nie trou nie, want ek was te besig om honeymoon te hou, maar nou het ek nie meer daardie verskoning nie,” skerts Bert.
Benewens al die veranderings wat die nuwe hoofstuk vir Bert bring, sal hy ook nou vir die eerste keer sy tjoppies van die ander kant van die toonbank moet koop. “Ek sal seker nou meer vis moet begin eet!”