Slangpik eis glo liefdevolle pa van week-oue baba

Indien dit nie vir die baba se gehuil was nie, het Gershwin Conradie se familie dalk nie kans gehad om van hom afskeid te neem nie.


Indien dit nie vir die baba se gehuil was nie, het Gershwin Conradie se familie dalk nie kans gehad om van hom afskeid te neem nie.

Conradie (28) en sy familie woon op die Welgevallen-plaas. Dit is hier waar sy geliefdes vermoed hy is deur ’n slang gepik, wat sy dood veroorsaak het.

“My seuntjie het gehuil en ek is toe sommer op. Ek het besluit om almal se broodjies in te pak vir die dag toe ek ’n vreemde geluid hoor. Ek het vir my ma gevra of sy dit ook hoor, maar ons kon nie agterkom wat dit is nie,” vertel Gershwin se jonger suster, Elanie Conradie, wat Maandagoggend om 03:50 in die kombuis was.

Gershwin het saam met sy vriendin en hul week oue baba in ’n huisie net oorkant die kombuis gewoon.

Elanie sê die kombuisdeur is toe oopgemaak en haar broer val toe neer op die kombuisstoepie. “Ek het weer die geluid gehoor en my selfoon se lig gebruik om te kyk wat aangaan. Hy was op die stoep en kon nie praat nie, maar hy het nog gereageer wanneer iemand met hom gepraat het.”

Elanie sê Gershwin se vriendin het vroeër vertel van ’n seerplek op Gershwin rug. Hy het glo Sondagoggend vroeg gekla die seerplek brand en sy moet kyk of hy teen iets gekap het.

Met Gershwin wat op die stoep lê het Elanie haar broer se T-hemp opgelig en die seerplek gesien. Daar was klein kolletjies op sy rug en die familie het sedertdien besef dit is waarskynlik waar Gershwin deur ’n slang gepik is.

Teen die tyd dat Gershwin by die Stellenbosch- provinsiale hospitaal aangekom het, het hulle egter nog nie tot dié besef gekom nie. Gershwin is by noodgevalle ondersoek en ontslaan.

“By die huis het hy net verswak. Hy het ook stuipe begin kry. Die middag het ons die ambulans geskakel en hulle het vir hom suurstof gegee en hom aan ’n drup gekoppel. By die hospitaal het hulle ’n bloedtoets gedoen wat gewys het daar is die ‘een of ander gif’ in sy liggaam,” vertel Elanie.

In die hospitaal het Gershwin weer stuipe gekry.

Dinsdagoggend het die jongman se week oue babatjie begin huil en 15 minute later het die hospitaal die Conradies geskakel om hospitaal toe te kom.

“Ek glo dit is die huil wat die kindjie gegee het omdat Gershwin daardie oomblik gesterf het. Kyk nou net hoe werk die Here. . . Maandagoggend was dit my seuntjie wat gehuil het en Dinsdagoggend was dit Gershwin se seuntjie wat gehuil het,” meen Elanie.

Gershwin werk sedert 2019 vir Maties-melk op die plaas. Hy is een van vyf kinders en Elanie sê sy sal haar ouer broer as ’n ware staatmaker onthou.

“Dit het nie saak gemaak of dit dag of nag was nie – jy kon hom vra om ietsie vir jou te doen en hy sou. Hy het dalk nors gelyk, maar hy was ook ’n lieflike mens. Hy het maklik met mense oor die weg gekom en was liefdevol,” vertel die sussie.

Geen begrafnisreëlings vir Gershwin is nog bekend nie.

Blackie Swart, ’n gesoute slangvanger van Strand, deel die volgende slangverwante wenke:

Bly kalm: Hou kinders en troeteldiere weg van ’n slang. Indien die slang binnenshuis is, maak die deur toe en plaas ’n handdoek onder die deur om die slang in die vertrek te hou. Indien die slang buite is, handhaaf ’n veilige afstand van minstens drie meter en hou jou oog op die slang.

Moenie betrokke raak nie: Moet nooit probeer om ’n slang te vang deur dit uit te lok deur voorwerpe daarna te gooi of dit dood te maak nie.

Slangbyte: In die geval van ’n slangbyt beklemtoon Swart die belangrikheid daarvan om kalm te bly en onmiddellike mediese hulp vir jouself of jou troeteldier te soek.

Behandel elke slangbyt as potensieel giftig, verwyder juweliersware en die troeteldier se nekbande, en kom so gou as moontlik by die naaste hospitaal of veearts.

Indien moontlik, probeer om die voorkoms van die slang te onthou, maar mediese personeel sal in elk geval die behandeling van simptome prioritiseer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.