Besoekers van naby en ver geniet ‘n bietjie van Idasvallei se gasvryheid.

In ‘n dorp ryk aan geskiedenis en kultuur meen Warren Carstens Idasvallei en sy inwoners het hul eie stories om te vertel en hy het die plek geskep om juis dit te doen.

Smokie Oakie in Luckhoffstraat is waar Warren en sy vrou, Alana, hul motorhuis en agterplaas in ‘n bymekaarkomplek omgeskep het waar kaggels brand, vleis gebraai en gerook kan word en waar hul buurt se erfenis gedeel kan word.

“Wanneer toeriste Stellenbosch besoek, hak hulle gewoonlik in die dorp en op wynplase vas, maar hier in Idasvallei is daar ook magic,” vertel Warren.

Wat jare terug tydens beurtkrag begin het as ‘n manier om maaltye te maak, het nou ‘n onderneming geword met die Carstense se talle vleis-rokers en braaiplek met Smokie Oakie.

By hul langtafel en in hul boomhuis word stories gedeel met potjiekos en braai vir plaaslikes en besoekers. “Deesdae kyk ons mekaar nie meer in die oë nie. Ons is so besig om verby mekaar te jaag. Maar om oorkant mekaar te sit en gesels is hoe ons meer leer oor mekaar, ons kulture en ervarings en hoe ons mekaar uiteindelik beter verstaan,” meen Warren.

Alana en Warren Carstens van Idasvallei.
Alana en Warren Carstens van Idasvallei.

Daarom is daar jazz-aande, storie-aande en praatjies wat gereeld by Smokie Oakie aangebied word.

Die paartjie meen dis belangrik vir inwoners om nader aan mekaar te leef – veral in ‘n gemeenskap soos Idasvallei, waarvan die karakter jaarliks weens ontwikkelings en toestroming van meer studente verander.

Warren meen kos is een van die beste maniere om samesyn te bewerkstellig. Hy onthou sy kinderdae goed – toe sy ouma Sondae ure lank voor haar Dover-stoof gestaan en kook het en later jare hoe sy ma, Auntie Sarah, koesisters gebak het, wat destydse met Die Son op Sondae uitgedeel is. “Tradisies is só vasgevang in ons kos. Dit is my ma wat op 75 jaar steeds bak en die tante by die kerkbasaar wat elke jaar die beste konfyt verkoop. En dit is nie ‘n erfenis wat ons net met internasionale besoekers moet deel nie, maar ook met mekaar.

“Die jonger geslag wat hier in Idasvallei woon, ken nie hul eie geskiedenis nie. Hulle weet nie van die groot geeste wat ‘n belangrike deel van die storie van Stellenbosch geskryf het nie.

“Hier is diep stories van die Moslem-gemeenskap, die geskiedenis van die Volkskerk en die skuif van die Hoërskool Lückhoff as gevolg van segregasie… Ons geskiedenis is belangrik, moet vertel word en kan help om werksgeleenthede te skep, hetsy dit toergidse, musikante of mense is wat dansklasse aanbied, kan dit ‘n aanwins wees om ons erfenis te deel,” sê Warren.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article