’n Projek wat aan die einde van die 2022- akademiese jaar van stapel gestuur is, sal vanjaar weer plaaslike kinders die mag van die pen gee danksy die pogings van lede van ’n plaaslike sokkerklub.
Die Back to School-skryfbehoefte-veldtog van die Cloetesville-sokkerklub was verlede jaar so suksesvol dat die organiseerders besluit het om die projek ’n jaarlikse veldtog te maak.
Broodnodige skryfbehoeftes is verlede jaar aan leerders van drie plaaslike skole geskenk, wat hulle waardevolle hulpbronne gebied het om te verseker dat hul skooljaar op die regte voet afskop.
Die projek is die geesteskind van Tyrone Manuel, junior koördineerder van die Cloetesville-sokkerklub, wat die idee met die res van die klub se uitvoerende komitee gedeel het in die hoop dat hulle sou inkoop. “Saam het ons besluit om dit te probeer en ons het die veldtog aan die einde van November 2022 van stapel gestuur,” verduidelik hy.
“Ons het ’n paar skenkings van die gemeenskap ontvang, tesame met ’n ruim skenking van boeke, skryfbehoeftes en rugsakke van FNB Kaapstad. Ons het toe al hierdie goedere onder leerders verdeel wie se onderwysers hulle as leerders in nood van ondersteuning identifiseer het.”
Die drie plaaslike skole wat voordeel uit die projek getrek het, was Rietenbosch, Pieter Langeveldt en Cloetesville primêre skole.
As gevolg van die sukses van verlede jaar se inisiatief en die erkenning van die behoefte aan so ’n projek ter ondersteuning van plaaslike leerders en skole, het die projek nou ’n jaarlikse instelling geword. “Die inisiatief beoog om broodnodige noodsaaklikhede aan leerders wat dit nie kan bekostig nie, te voorsien,” aldus Manuel.
“Baie kinders gaan kaalvoet skool toe of sonder die nodige skoolbenodigdhede. Daarom doen ons ’n beroep op die breër gemeenskap om nie net skryfbehoeftes te skenk nie, maar ook skoene en skoolklere aan hierdie waardige saak. Die skenkings hoef nie nuut te wees nie; dit moet net in ’n goeie toestand wees vir die volgende kind om dit te gebruik.”
Manuel het bygevoeg dat skenkings stadig ingekom het sedert vanjaar se veldtog in die middel van Desember begin is. “Hierdie jaar is nie so goed soos verlede jaar in terme van akenkings nie. Ons het tot nou net ’n skenking van skryfbehoeftes van ’n gemeenskapslid ontvang,” sê hy.
- “Dus wil ek ’n opregte pleidooi aan die gemeenskap rig om hierdie inisiatief asseblief te ondersteun, want hul ondersteuning sal kinders help, hulle in die skool hou en ’n beter toekoms bou.” Kontak Manuel by 064 822 4576 om te skenk of vir meer inligting oor die Cloetesville FC Back to School-skryfbehoeftesveldtog.