Só kan boere bespaar

Een van die grootste onlangse skokke vir die landbou was die onverwagse en skerp styging in die koste van produksiemiddele, met die pryse van alles van kunsmis tot gewasbeskermingsprodukte wat met dubbelsyfers geklim het.


Een van die grootste onlangse skokke vir die landbou was die onverwagse en skerp styging in die koste van produksiemiddele, met die pryse van alles van kunsmis tot gewasbeskermingsprodukte wat met dubbelsyfers geklim het.

Skielik het boerdery soveel duurder geword, en die risiko het aansienlik gestyg omdat boere noodgedwonge hoër opbrengste moes najaag.

Vandag is die kollig op maniere om duur insette die hoof te bied. Een van die vrae wat landboukenners hulself gereeld afvra, is of die natuur van die dienste kan lewer wat ons gewoonlik in ’n sak koop.

“Dit is regtig ’n voorreg om weer ons reeks herlewingslandboukonferensies (Reitz, Ottosdal en Stellenbosch) saam met ons vennote aan te bied ná die Covid-19-inperkings van die afgelope twee jaar,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.

“Met die astronomiese styging in insetkoste is dit natuurlik ook ’n goeie tyd om weer idees uit te ruil oor hoe die natuur ingespan kan word om boere se koöperasie-rekening ’n bietjie te snoei. Ons moet eenvoudig maniere vind om goedkoper en meer volhoubaar te boer.”

Op die konferensies kan boere kers opsteek by internasionale sprekers, by ander boere leer wat elke dag herlewingslandboupraktyke suksesvol toepas, en meer uitvind oor die jongste navorsing oor dié opwindende veld.

“Ons spog met twee internasionale sprekers, dr. Ademir Calegari, ’n internasionaal erkende Brasiliaanse dekgewasspesialis, en Pablo Etcheberry, ’n Argentynse beesboer wat ultrahoëdrukbeweiding suksesvol beoefen en gereedskap ontwerp om die bestuur daarvan te vergemaklik.”

Martli Slabber, ’n sitrusboer van Citrusdal, Wes-Kaap, gaan onder meer kom vertel hoe dekgewasse en kompos lewe in sitrussandgrond blaas; Junior Herholdt van die Swartland, Wes-Kaap, gaan sy suksesse en mislukkings deel om hoë insetkoste te sny, terwyl Rens Smit, landboutegnikus van die Wes-Kaapse departement van landbou se Langgewens-navorsingsplaas, saam sal gesels oor die gebruik van skape in die bestuur van dekgewasse.

Dié konferensies is ’n moet vir enige boer wat goedkoper, winsgewender en lekkerder wil boer.

Die Stellenbosch-konferensie vind op 15 Maart op die Nooitgedacht-landgoed plaas. Kaartjies kos R800 per persoon (sluit middagete in). Belangstellendes wat vroeg reeds hul kaartjies bespreek kom in aanmerking vir afslag. Die konferensie word ook aanlyn gestroom. Kaartjies kos R350. Kaartjies is beskikbaar op Quicket by https://qkt.io/Stbosch.

Die konferensie word in trotse vennootskap met die Soil Health Support Centre aangebied.

Kaartjieverkope sluit twee dae voor die aanvang van die konferensie. Covid-19-protokol sal streng nagekom word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.