’n Gratis aanlynplatform om waterveiligheid te bevorder is deur Lewensredding SA en DHL begin.Foto:

Credit: CarmenTaylor

’n Splinternuwe e-leer platform mik om waterveiligheid in Suid-Afrika te bevorder.

Lewensredding SA (LSA) het die gratis WaterSmart-platform van stapel gestuur om waterveiligheid-inhoud aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel. Die platform volg op die suksesvolle LSA WaterSmart-skoolprogram, wat in vennootskap met die departement van basiese onderwys en DHL aangebied is.

Elke jaar staan honderde Suid-Afrikaanse families geliefdes aan die dood af, in voorkombare verdrinkings. Ná padongelukke is verdrinkings die tweede hoogste oorsaak van toevallige sterftes onder jeugdiges 17 jaar en jonger. Díe probleem is nie uniek aan SA nie, maar dit volg, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, die wêreldwye tendens, waar 90% van die wêreld se toevallige verdrinkingssterftes onder middel- tot laerinkomste lande voorkom.

Waterveiligheid-opleiding word wel in SA aangebied, maar hoe ver dít strek is beperk, want die programme is afhanklik van persoonlike onderrig wat deur vrywilligers, soos diegene wat met LSA werk, aangebied word.

LSA het in 2016 die WaterSmart-program van stapel gestuur. Dit was ’n papier-gebaseerde opvoedingsprogram wat vir die basiese onderwysdepartement se lewensoriëntering kurrikulum vir gr.4 tot gr.6 ontwikkel is. Sedertdien, bied meer as 50 lewensredding fasiliteerders, danksy die borgskap van korporatiewe maatskappye soos DHL, die program in honderde minderbevoorregte skole aan.

Die DHL WaterSmart-aanlynplatform poog om die verdrinkingsprobleem in SA aan te spreek deur leerders oor die gevare van water in te lig, hulle te bemagtig met die kennis oor hoe om risiko’s te hanteer en ’n konstante bewustheid en paraatheid te handhaaf wanneer hul naby water is.

Die platform sluit geanimeerde video-inhoud, interaktiewe vasvra speletjies en speletjies om die risiko’s te identifiseer in, wat dit vir kinders maklik en pret maak om oor waterveiligheid en die voorkoming van verdrinkings te leer. Die karakters en tonele word in ’n eenvoudige, verstaanbare formaat aangebied sodat dit aan ’n wyer gehoor gebied kan word.

Die inhoud komplimenteer materiale wat reeds deur LSA vir in-persoon-opleiding ontwikkel is, insluitend die “Resci” karakter wie leerders by die hand vat en deur die inhoud lei. Onderwysers en ouers word deur die inhoud gelei met leerplanne, aflaaibare hulpbronne soos werkboeke, lesers, en plakkate om hul te help om die program aan leerders aan te bied. Ná elke module voltooi is, word sertifikate aan leerders oorhandig.

“As ondernemings praat ons daarvan om uitnemendheid in ’n digitale wêreld te lewer. Dus, toe die geleentheid om met die LSA-span te werk om hul leermateriale te digitaliseer opduik, het ons dit aangegryp,” het Jed Michaletos, uitvoerende direkteur van DHL Express SA, gesê.

“Dit sal die omvang van die program deur die gemak van toegang dramaties vergroot – en regtig help om die boodskap van waterveiligheid aan almal te lewer. Dié projek is ’n ware demonstrasie van ons organisasie se doelwit om mense met mekaar te verbind en lewens te verbeter.”

Met die somer wat uiteindelik ná ’n lang en nat winter sy kop uitsteek, wil DHL en LSA seker maak dat kinders geleer word hoe om in en om water veilig te wees, om sodoende onnodige verdrinkings te verhoed, want een lewe wat deur verdrinking geëis is, is een lewe te veel.

Kliek hier om toegang tot die platform te kry: https://watersmart.dhllifesaving.com/library/home.

You need to be Logged In to leave a comment.