Só sal Eikestad-inwoners vanjaar opdok

Padwerke, waterpype en behuising is op die sakelys vir die 2024-’25- boekjaar – lewer dus jou insette nou.


Padwerke, waterpype en behuising is op die sakelys vir die 2024-’25- boekjaar – lewer dus jou insette nou.

Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, het Woensdag (27 Maart) die begroting vir die munisipale gebied aan die raad vir die nuwe boekjaar voorgelê.

Die algehele inkomste waarvoor die bedryfsbegroting voorsiening maak, is op van R2 456 088 829 in 2023-’24 na R2 631 276 396 vir 2024-’25.

Die kapitaalbegroting het van R491 726 021 in 2023-’24 na R620 345 303 in 2024-’25 gestyg. Die hoofkapitaalpro­jekte wat op die boeke is, sluit in alternatiewe kragopwekking, behuising in Jamestown, ’n nuwe substasie vir Khayamandi en opgraderingswerk aan die Wemmershoek- en Klapmuts-afvalwaterbehandelingswerke.

Inwoners sal oudergewoonte ook moet gereed maak om hul eie begroting aan te pas aangesien hulle meer sal moet opdok vir munisipale dienste.

Eiendoms­belasting sal met 6,30% styg terwyl die totale tariewe met 7,50% sal toeneem.

Die voorgestelde elektrisiteitstarief sal 11% opgaan terwyl die Nasionale Elektrisiteitsreguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ’n 12,70%-styging in die tarief vir die grootmaataankope vir elektrisiteit goedgekeur het.

Volgens die munisipaliteit is daar ’n algemene afname in die aanvraag na elektrisiteit namate plaaslike verbruikers van alternatiewe kragbronne gebruik maak.

Watertariewe sal met 6,20% styg, terwyl sanitasiedienste met ’n voorgestelde 8% sal styg en inwoners sal 6,90% meer moet betaal vir vullisverwydering.

Op die raadsvergadering het die opposisie Van Deventer gelukgewens met die begroting, maar gewaarsku dit wat op skrif is, moet daadwerklik geïmplementeer word.

Die ANC het gemaan die geld wat vir infrastruktuur opsy gesit is, moet gebruik word om inwoners se lewe te verbeter, veral in gebiede soos Cloetesville, Franschhoek en Jamestown, waar die verwydering van rommel glo kort-kort ’n kopseer is.

Die raadslid Christie Noble van die GOOD-party het sy kommer uitgespreek oor die “leemtes” van die begroting vir sekere gemeenskappe, maar het saamgestem dat die instandhouding van infrastruktuur uiters belangrik is vir suksesvolle dienslewering.

Isabelle de Taillefer van die VF+ het haar kommer uitgespreek oor die munisipaliteit wat geld leen.

Sy was egter tevrede met die begroting se fokus op onafhanklike kragopwekking en het gesê sy hoop die munisipaliteit kan genoegsame krag opwek om uiteindelik “die middelvinger” vir beide Nersa en die kragverskaffer Eskom te kan wys.

Inwoners het nou kans om hul insette vir die konsepbegroting te lewer voordat dit aanvaar word.

  • Om die volle konsepbegroting te besigtig sowel as ’n lys van die vyfdegenerasie- geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings besoek https://stellenbosch.gov.za/idp-budget-2024-2025/
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.