Baie inwoners van die munisipale gebied Stellenbosch is tans onkundig en ander verward oor die wykskomitee-verkiesings wat nou plaasvind. Baie mense weet nie van die verkiesings nie, ander weet nie hoe dit werk nie en sommige is verward tussen ou en gewysigde prosedures. Eikestadnuus het gaan kers aansteek by Dawid Botha, ’n veteraan van vele wykskomitee-verkiesings sedert die eerste in 2000.
Wat is die doel van die wykskomitee? “In gewone taal is die komiteelede die oë en ore van die wyksraadslid aan die een kant en aan die ander kant die kontakte tussen die inwoners op grondvlak en die raadslid van hulle wyk,” verduidelik Botha.
Hy sê die komitee kan nie bindende besluite neem nie, maar kan aanbevelings doen en menings uitspreek. Wykskomiteelede kan ook die klagtes en probleme in die wyk aan die raadslid deurgee.
“Dikwels kan ’n wykskomitee die wyksraadslid van die raad bedien oor die wenslikheid van byvoorbeeld nuwe ontwikkelings in die wyk. Die wykskomitee is nie-polities en onafhanklik en inwoners van alle politieke oortuigings mag in die komitee dien, mits hulle onpartydig optree. Altesaam 10 lede dien in die komitee, uitgesonderd die raadslid,” voeg Botha by.
’n Wykskomiteelid moet as kieser in die wyk waar hy dien geregistreer wees en moet dus in die wyk woon. Die inwoner wat hom/haar benoem, moet ook in die wyk geregistreer wees, en dus ook daar woon.
Wanneer ’n nuwe raad verkies word, word ’n wykskomitee se termyn beëindig en word ’n nuwe komitee gekies, soos nou aan die gebeur is. Die munisipaliteit moet inwoners deeglik in kennis stel van die hele proses van benoemings en verkiesingsvergaderings.
“Vroeër jare is wykskomiteelede volgens sektore of belange in ’n wyk gekies, soos byvoorbeeld, veiligheid, omgewing, opvoedingsinstansies, erfenis, sport, ensovoorts. Daarna is ’n stelsel ingebring waarvolgens die hele wyk in geografiese gebiede, of buurte, ingedeel word en elke gebied dan deur ’n komiteelid, wat in daardie gebied woon, verteenwoordig is,” sê Botha.
Elke kieser het een stem vir die kandidaat van sy keuse wat in sy geografiese gebied of buurt woon en dit sal verteenwoordig. As net een benoem word, word die verteenwoordiger onbestrede sonder ’n verkiesing verkies.
“Wat baie mense verwar, is dat die raad besluit het ’n wykskomitee kan uit geografiese en sektorale verteenwoordigers bestaan. Dit word ’n hibried-stelsel genoem. ’n Wyk word byvoorbeeld in ses geografiese gebiede, soms buurte, ingedeel en inwoners kan net vir die kandidaat in hul buurt of gebied stem. Die ander vier lede van die wykskomitee bestaan uit vier lede wat sekere sektore of belange, soos veiligheid, jeug, omgewing of bejaardes, verteenwoordig.
“Volgens my inligting kan almal op die vergadering vir die verteenwoordigers hiervan stem. Die beampte op die verkiesingsvergadering sal dit aan almal verduidelik.”. Gedetailleerde inligting oor wykskomitees is beskikbaar uit die Stellenbosch-munisipaliteit se Beleid en Prosedures vir Wykskomitees, soos gewysig op 24 April 2019 en 25 November 2020, en dit sowel as raadsbesluite moet gesien word as gesaghebbend wat wykskomitees betref.