Soek jy ware liefde?

kykNET is weer op soek na ’n nuwe oes van boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel wil wees van die 16de seisoen van sy gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou.


kykNET is weer op soek na ’n nuwe oes van boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel wil wees van die 16de seisoen van sy gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou.

Vir bykans twee dekades reeds bewys die werklikheidsreeks, wat op DStv-kanaal 144 uitgesaai word, dat dit ongetwyfeld ’n liefdeswenresep is, met tientalle Suid-Afrikaanse boere wat sedert 2007 die liefdes van hul lewe hier gevind het.

Die borrelende aanbieder Marciel Hopkins sal vir ’n vierde seisoen die program aanbied. “Ek is elke jaar van vooraf opgewonde oor al die nuwe mense wat ek gaan ontmoet, die mooi plekke van ons land wat ek sal sien en natuurlik ook die pragtige liefdesstories wat geskryf gaan word,” vertel sy.

“Die afgelope 15 seisoene het reeds bewys hoe mense se lewens wesenlik kan verander wanneer hulle die regte persoon vind om die lewe vorentoe mee aan te pak. Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform waardeur jy nuwe mense kan ontmoet en leer ken. Ek sal enigiemand aanmoedig om braaf te wees en in te skryf vir hul kans op liefde.”

Boere kan op drie maniere inskryf: aanlyn by www.kyknet.tv; bel 079 614 2229; of stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.

Let wel, foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel, voornemende deelnemers moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees, en inskrywings moet die vervaardigers voor middernag Donderdag 7 September bereik.

Die top-tien boere sal Saterdag 29 Oktober tydens ’n spesiale uitsending aangekondig word, waarna voornemende pasmaats dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf. Die reeks sal van 11 Julie 2024 Donderdae om 20:00 uitgesaai word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.