Sampioen- en natuurliefhebbers kry vanjaar weer die geleentheid om saam met ’n kundige gids ’n naweek te beleef wat toegewy is aan wilde sampioene in die woud van die bekende Delheim-wynlandgoed in Stellenbosch, asook om verskeie kulinêre genietinge te ervaar wat daarmee gepaardgaan.
Delheim se dennewoud bevat meer as 20 spesies wilde sampioene. Op Vrydag 14 en Saterdag 15 Junie verwelkom hierdie bekende wynplaas op Simonsberg nuwe en ervare sampioen-‘iste’ om hul eie sampioene te kom uithaal. Hierna sal ’n heerlike middagete met Delheim-wyne in die restaurant aangebied word.
Elkeen van die dae se program bestaan uit ’n praktiese gids tot sampioen-identifikasie, gevolg deur ’n soeksessie in die Delheim-woud.
Die dag word afgesluit met ’n driegangmiddagete by die Delheim-restaurant wat smaaklike sampioenverwante opsies insluit, met talle geleenthede om die landgoed se reeks uitsonderlike wyne te proe en te geniet.
Elke dag se sampioen-sessie sal begin met ’n praatjie deur die sampioenspesialis Gary Goldman terwyl gaste koffie, glühwein, muffins en beskuit geniet. Ná ’n insiggewende handleiding vir sampioenidentifikasie sal ’n sampioensop voorgesit word om die sintuie aan die gang te kry, voordat Goldman die gewilde eetreis in die Delheim-woud lei.
Goldman, ’n gereelde besoeker aan die landgoed, sal gaste die weg aanwys met sy kundige kennis en praktiese insig. Die vind van spesifieke sampioene kan egter nie gewaarborg word nie.
Trek aan vir moontlike koue weer – ’n reënbaadjie en goeie stapstewels of -skoene. Neem ook ’n mandjie en ’n klein sakmes saam.
Die soeksessie word gevolg deur middagete in die restaurant, waar die kombuisspan geregte sal aanbied wat gebaseer is op die teksture en geure van die “misterie van die sampioen”.
Gaste sal ook kopieë ontvang van sommige van Delheim se familieresepte oor tegnieke en kook met sampioene. Met hul vertrek ná middagete sal elke gas ook ’n bottel Delheim-wyn ontvang.
- 09:00 tot 09:30 – aankoms met koffie, glühwein, kolwyntjies en beskuit;
- 09:30 tot 11:15 – sampioen-identifikasie deur Gary Goldman;
- 11:15 tot 11:30 – sampioensop voorgesit ná bekendstelling;
- 11:15 tot 13:00 – stap en kos soek; en
- 13:00 tot 15:00 – driegangmiddagete in restaurant, wynproe ingesluit.
- Kaartjies vir elk van die twee dae se program kos R1 000 per persoon en is by www.quicket.co.za beskikbaar. Kaartjies is beperk tot 40 mense per dag, bespreek dus jou plek.