As jy lus is vir ’n behoorlike kuier in die wynlande, sit sommer onmiddellik Saterdag 6 April opsy.
Die Oesfees op die geskiedkundige Solms Delta-wynlandgoed by Franschhoek is terug ná ’n paar jaar se hibernasie en soos voorheen is gaste gewaarborg van musiek wat hulle op hul voete sal hou.
Die Oesfeesis meer as net lekker musiek – die trosse druiwe is uit die priële en die wynlandgoed vier dan sommer op dié dag die einde van die oestyd en sê ook dankie aan die hande wat so hard gewerk het om die oes betyds in te bring – dít terwyl bekende musikante soos Spoegwolf en van die lekker plaaslike orkeste die Franschhoek-vallei sal laat weergalm.
“Ons tree op crazy plekke op, maar min so mooi soos Solms Delta. Oesfeesis vir ons ’n hoogtepunt, want behalwe vir die vineyard vibes vier ons die einde van die oes saam met die gemeenskap. En dit in ’n intieme venue teen ’n backdrop wat jou vir ’n paar ure van jou sorge sal laat vergeet. Dit kan mos nie beter nie,” sê Danie Reënwolf du Toit, die hoofsanger van Spoegwolf.
Die kunstenaars wat by Oesfeesgaan optree, is Spoegwolf, Anton Goosen, Loukmaan Adams, Frazer Barry, Oom Hannes Coetzee, The Hanepoot Brass Band, Nick Turner, Schalk Joubert, The Solms Delta Optelband, die Agri-Got-Talent wenners, Soetstemme en Papier Family.
En onthou, daar is eg-Bolandse lekkernye en drinkgoed te koop.
Gaste word aangeraai om gemaklik aan te trek en ’n kombers saam te neem.
Kinders onder 12, wat onder die toesig van hul ouers is, geniet gratis toegang. Vir die res sal R200 gewaarborgde plesier bied.
Die hekke open om 10:00.
- Bespreek kaartjies aanlyn by plankton.mobi