Plaaslike verpleegkundiges deel hul wenke vir gesonde welstand. Foto ter illustrasie. Foto: Patty Brito/Unsplash


Verpleegkundiges is die hart van gesondheidsdienste, en met die herdenking van die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges (Sondag 12 Mei) sê die provinsiale departement gesondheid en welstand dankie aan verpleegkundiges in sy diens.

Verpleegkundiges ken hul gemeenskappe en dink voortdurend aan maniere om dienste aan te pas tot voordeel van pasiënte. Hulle is ook ’n goeie voorbeeld van hoe elkeen van ons moet omsien na ons gesondheid en welstand.

Praktiese raad van ons verpleegkundiges

Sr. Moira Mentoor van die TC Newman-gemeenskapsdagsentrum in Paarl sê ’n weeklikse kort stappie saam met ander gesondheidswerkers, gee nie net verligting vir haar laerug, waar ’n senuwee vasknyp nie, maar dit motiveer haar vir die dag wat voorlê. “My fisioterapeut het aanbeveel dat ek meer aktief is. Die stap laat my beter voel. As jy buite in die vars lug was, voel jy sommer lus vir die dag, en dis lekker om met ander te gesels,” sê sy.

Nog iemand wie getuig van die impak van oefen en dit te kombineer met sosialisering, is sr. Vuyiswa Rulumeni van die Worcester-hospitaal. Sy het in 2020 by die hospitaal begin werk in die middel van die COVID-19-pandemie, waar sy haar voete in hierdie uitdagende tyd moes vind, en baie hard werk.

Rulumeni het later besef dat sy nie goed omsien na haarself nie en dat sy gewig optel. Toe sy lees dat hier ’n parkrun is, het sy hieraan begin deelneem. “Ek begin nou my Saterdae só. Ek geniet die vars lug en het begin gesels met ander wat deelneem aan die parkrun. Ek was nog net by ’n paar, maar die spanning in my skouers is weg en ek voel goed,” vertel sy.

Sy het ook by ’n gimnasium aangesluit en het haar eetplan aangepas sodat sy en haar dogters saam gesonder maaltye geniet. “By die werk is ek ook op ’n komitee wat geleenthede vir personeel reël. As gevolg hiervan, leer ek meer en meer mense ken. Dis baie lekker om te weet saam met wie ek werk en te kan connect met mense.”

Sr. Elzanne Dampies, wat deel is van die gesondheidspan in die Witzenberg-streek, sê sy het ná ’n traumatiese gebeurtenis opnuut besef hoe belangrike rol ’n goeie ondersteuningsnetwerk en jou gedagtes speel.

Dampies is in November 2022 aangeval waar sy in ’n gemeenskap gewerk het. “Ek het die tyd wat ek af siek was met familie deurgebring om nie alleen te voel nie, en om minder angstig te wees,” vertel sy van haar herstel.

“Maar, ek het ook vir myself gesê dit kon soveel erger gewees het. Ek het gevoel dat ek ’n tweede kans op die lewe gekry het. En dis dié gedagte wat my help cope het.”

Nog maniere waarop jy jou gesondheid en welstand ’n hupstoot kan gee:

  • Drink meer water! Jou liggaam het skoon water nodig om goed te funksioneer.
  • Gee van jouself, of help iemand anders. Dit laat jou goed voel as jy iets vir iemand anders kan beteken. Vind uit of jy kan bloed skenk, of neem iets om te eet na iemand wie deur ’n moeilike tyd gaan. Volwassenes kan jong kinders help deur hulle te neem vir gratis immunisering. Immunisering help hulle om gesond te bly en te groei.
  • Praat met iemand wat jy vertrou. Wanneer jy ’n moeilike dag gehad het, kan jy beter voel as jy kan afpak teenoor iemand wat goed luister.
  • Luister na die aanbevelings van jou gesondheidswerker en neem medikasie wat vir jou voorgeskryf word. As jy dit doen, sal jy ’n beter lewensgehalte hê.
  • Beperk die tyd wat jy op sosiale media en voor ‘n skerm spandeer. Dit kan baie nadelig wees vir jou welstand. Besluit om eerder jou foon neer te sit en tyd te spandeer met iemand wat jy lief het.

You need to be Logged In to leave a comment.