Sonkragmotorfiets aan’t kom

In ’n revolusionêre vertoon van Afrika-vernuf sal ’n elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en net deur die son aangedryf word in Oktober die lang pad van Nairobi na Stellenbosch aanpak. Die inisiatief is deel van Vervoermaand-vierin


In ’n revolusionêre vertoon van Afrika-vernuf sal ’n elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en net deur die son aangedryf word in Oktober die lang pad van Nairobi na Stellenbosch aanpak. Die inisiatief is deel van Vervoermaand-vierings.

Navorsers van die fakulteit ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte saamgesnoer met Roam, ’n tegnologiegedrewe elektriesemobiliteitsmaatskappy in Nairobi, Kenia, om die Roam Air, ’n pasgemaakte elektriese motorfiets wat in Kenia vir Afrika ontwerp is, te toets.

Die motorfiets word in stedelike omgewings gebruik. Sover vasgestel kon word, sal dit die eerste keer wees dat elektriese motorfietse wat slegs deur sonkrag aangedryf word en in Afrika ontwikkel is, die sowat 6 000 km aflê.

Die motorfiets, vergesel deur twee ondersteuningsvoertuie, vertrek Sondag (29 September) uit Nairobi en sal na verwagting Maandag 18 Oktober in Stellenbosch aankom – betyds vir die US se Elektriesemobiliteitsdagviering.

“Roam het twee van sy elektriese motorfietse aan ons groep geskenk vir navorsing en toetswerk,” verduidelik prof. Thinus Booysen, die stigter van die Electric Mobility Lab. “Ons kan nie aan ’n beter manier dink om ons navorsingsmede­werking mee te begin as om die motorfiets op terrein in Afrika te toets nie. Om dit binne die Afrika-gemeenskap van vindingrykheid te doen, is ’n reusevoorreg.”

Navorsers by die nuutgestigte Elektriesemobiliteitslaboratorium in die departement bedryfsingenieurswese staan aan die spits van navorsing oor elektriese mobiliteit op die vasteland. Hulle fokus op die streek se unieke mobiliteitsme­todes en die nodige infrastruktuur en bedryfsaanpassings.

Die US en Roam beoog om saam navorsing oor elektriese voertuie en die ondersteunende ekostelsel te ontwikkel en toe te pas insluitend, maar nie beperk nie, tot die elektriese motorfietse, elektriese voertuigaandrywing, plaaslike vervaar­diging en digitale toetse vir die beplan­ning vir elektriese stedelike mobiliteit.

“Hierdie reis toon Kenia se vermoë om elektriese voertuie van wêreldgehalte vir Afrika-toestande te ontwerp en plaaslik te vervaardig. Dit is ’n bewys van plaaslike innovasie en neem die voortou in volhoubare mobiliteitsoplossings,” sê Masa Kituyi, EM-produkeienaar by Roam.

Die PhD-kandidaat en medenavorser in die projek Stephan Lacock en Kituyi sal die motorfiets op die tog ry. “Die klem val nie op die vraag of so ’n reis onder­neem kan word nie, aangesien daar reeds ander soortgelyke reise in die wêreld onderneem is, maar eerder om Afrika-vindingrykheid en samewerking tussen die US en Roam ten toon te stel ten einde Afrika-toestande met groen sonenergie te oorkom,” sê Lacock.

Die US-navorsingspan is onder meer baie geïnteresseerd in die werkverrigting van die dryfstelsel en omruilbare batterye, asook die doeltreffendheid van die sonkragherlaaiingsoplossing.

Die US se Elektriesemobiliteits­labo­ratorium word Vrydag 18 Oktober by die Asara-wynlandgoed bekendgestel. ’n Hoogtepunt van die geleentheid sal die oorhandiging van ’n herboude 65-sitplek bus aan die Golden Arrow-busdiens wees.

Die motorfiets wat die reis van Kenia onderneem, sal ook amptelik aan die laboratorium oorhandig word.

Regeringsamptenare, finansiers, verteenwoordigers van die bedryf en navorsers sal na verwagting die geleentheid bywoon. Demonstrasies van verskeie elektriese voertuie en laai-infrastruktuur sal deel uitmaak van die aktiwiteite by die geleentheid.

Die rit van Nairobi na Stellenbosch word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Scatec, Balancell, Voetspore, Tracks for Africa, Bush Lapa, SANEDI deur die LEAP-RE-projek en Charlie’s Travel.

  • Besoek ev.sun.ac.za/ecross.html vir meer.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.