Die e’Bosch-skoolkoorfees, wat Vrydag 23 en Saterdag 24 September in Stellenbosch aangebied is, is een van die minstens 30 projekte wat deur die e’Bosch-erfenisprojek in September rondom Erfenisdag aangebied word.
Vanjaar het sowat 800 leerders van 18 laerskole en ses hoërskole van Stellenbosch en Franschhoek deelgeneem. “Vanjaar se skoolkoorfees was weer eens ’n ongelooflike belewenis. Dit was ’n plesier om soveel liedjies van uitstaande gehalte saam met die leerders te kon beleef,” het dr. Sias Mostert, voorsitter van e’Bosch-erfenisprojek, gesê.
“Die skoolkoorfees bly een van die e’Bosch-erfenisprojek se hoogtepunte. Hierdie kinders oefen nou al meer as ses maande saam en ek glo dat ons daarmee ’n deel van ons doelwitte bereik om kanale te skep waardeur die leerders mekaar beter kan leer ken, waardeer en respekteer.”
Die Universiteit Stellenbosch se koperblaas-ensemble onder leiding van Pamela Kierman, ’n senior dosent aan die US se musiekdepartement, het vanjaar ook weer begeleiding verskaf.
Die ses hoërskole wat deelgeneem het, is Cloetesville, Makupula, Stellenzicht, Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch en Lückhoff. Die 18 laerskole is onder meer Cloetesville, Eikestad, St. Ida’s RK, Bruckner de Villiers, Rietenbosch, Pieter Langeveldt, Ikaya, AF Louw, J.J. Rhode, Klapmuts, Dalubuhle, Joostenberg SSKV, St. Vincent RC, Simondium, Devonvallei, Raithby, Weber Gedenk NGK en Dorothea.