Span wys hoe dit gedoen word

Die Hoër Meisieskool Bloemhof se o.14A-netbalspan het vanjaar onoorwonne na die eindronde van die Nasionale Topskole-netbaltoernooi vir sekondêre skole deurgedring nadat hulle die beste netbalskole in die Wes-Kaap se o.14-spanne geklop het.


Die Hoër Meisieskool Bloemhof se o.14A-netbalspan het vanjaar onoorwonne na die eindronde van die Nasionale Topskole-netbaltoernooi vir sekondêre skole deurgedring nadat hulle die beste netbalskole in die Wes-Kaap se o.14-spanne geklop het.

“Om te wen is nie iets wat jy alleen kan doen nie,” meen Tilla-Marié Schreuder (graad 8), die span se kaptein. “Ons het baie goed as ’n span saamgespeel.”

Dit word beaam deur die span se afrigter, Nicolene van der Vyver, wat self ’n oudleerder en voormalige kaptein van die eerste netbalspan was.

“Dis ’n heerlike span om mee saam te werk. Behalwe dat hulle baie talentvol is, speel hulle met entoesiasme en selfvertroue.”

Ten spyte van triestige weer die afgelope naweek in Riversdal, waar die provinsiale uitspeelrondes plaasgevind het, kon die span skoonskip in dié kompetisie maak.

Die span wen die Hoërskool Punt van Mosselbaai met 20-6, Paarl Gimnasium met 12-5 en die Hoërskool De Kuilen met 20-7 om eerste in die groep te eindig.

In die halfeindstryd klop die span Hoërskool Vredendal met 20-7 en meet in die eindronde kragte teen die Hoërskool Stellenberg, wat met 17-11 ook teen die Bloemhoffers die knie moes buig.

In Augustus sal hierdie span strawwe kompetisie by die nasionale eindronde in Boksburg in die gesig staar, maar die meisies is reg vir die uitdaging.

“Ek dink dit sal ons vaardighede ontwikkel sodat ons as ’n span kan groei en in die toekoms beter en beter netbal kan speel,” sê Tilla-Marié.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.