Foto ter illustrasie. Foto: Jiachen Lin/Unsplash


Die drie buurspanne in Stellenbosch en omgewing wat vanjaar ’n aanslag gaan maak om die Superliga B-titel te verower, het die afgelope naweek gewys dat hulle goeie rekenskap van hulself in die liga gaan gee nadat al drie hul eerste vriendskaplike wedstryde gespeel het.

Die drie spanne is Kylemore, Franschhoek en Van der Stel-Evergreens (VDE). Eersgenoemde twee was verlede jaar in aksie in die liga, maar VDE maak vanjaar sy buiging in Superliga B, nadat hy uit Superliga C opgeskuif het.

Die tuisspan het op die Kylemore-sportterrein teen Paarl-Rangers gespeel en die Rangers 42-6 geklop. Saterdag (9 Maart) speel Kylemore teen Busy Bees, ook tuis, voordat hy Kuilsrivier op dié se tuisveld die stryd aansê. In sy laaste vriendskaplike wedstryd op 30 Maart pak hy Young Gardens van die Paarl op dié se tuisveld. Kylemore se eerste ligawedstryd op 13 April is teen Hamediehs in Athlone. Verlede jaar het Kylemore 11de in Superliga B geëindig.

VDE het Saterdag in Kraaifontein Hands & Heart met 28-12 geklop en speel eers weer op 16 Maart teen Riverstones in die Paarl en dan op 23 Maart teen Pniël Villagers in Pniël. Sy eerste ligawedstryd is Saterdag 20 April teen Hamlets op die Bergzicht-sportterrein in Stellenbosch. VDE was verlede jaar die voorloper in Superliga C en het in die eindstryd in die afdeling vasgeval teen Hamediehs op City Park en tweede geëindig.

Franschhoek het Saterdag op sy tuisveld 24-22 met Kuilsrivier afgereken. Franschhoek het verlede jaar boaan die punteleer geëindig, maar nie na ’n hoër liga opgeskuif nie. Sy eerste ligawedstryd is op 13 April teen Hands & Heart tuis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article