Die Van der Stel-Evergreens- en Franschhoek-rugbyklubs is albei Saterdag (31 Augustus) in Superliga B-halfeindstryde op City Park in Athlone gewikkel, waar hulle onderskeidelik teen Kraaifontein en die UWK kragte sal meet.
Van der Stel-Evergreens (VDE) het Hamediehs die afgelope Saterdag (24 Augustus) op die Bergzicht-sportterrein met 41-35 en Franschhoek vir Hands & Heart in Kraaifontein met 26-31 geklop.
Franschhoek se oorwinning beteken dat Hearts weer volgende jaar in Superliga B in aksie sal wees, terwyl Franschhoek ernstig is om ná vier jaar uit Superliga B na Superliga A te vorder. In die verlede het hulle by die laaste hekkie gestruikel, maar is nou oorgehaal om daardie hindernis oor te steek.
VDE se opgang sedert hy in 2022 saam met Hamediehs en Kraaifontein saam-saam die paadjie begin loop het tot nou, is bewonderenswaardig. Die klub is in 2017 gestig en was vir omtrent vyf jaar, as die Covid-jaar ook in ag geneem word, in die begraafplaas van die Westelike Provinsie se rugbykompetisies, naamlik die sone-liga.
Die spelers het ingekoop by die afrigter Alastair Siegelaar se doelwitte en elkeen afgetik soos die span tot in Superliga B gevorder het. Saterdag sal dit die tweede kragmeting tussen VDE en Kraaifontein binne 14 dae wees en die feit dat Kraaifontein op sy eie veld op sy baadjie gekry het, was ’n bitter pil om te sluk.
VDE kan hulle dus klaarmaak vir ’n baie fisieke stryd van die afskop af en dat geen genade gevra of gegee gaan word nie. Die feit dat VDE maar nog ’n groentjie is, skeel nie een van die spanne vanjaar in Superliga B of C ’n bloue duit nie; daar is deeglik kennis geneem van die “kind” wat nou sy lyf met die groot kanonne kom rondgooi.
Soos die gesegde lui: Die een wat die graagste Saterdag 14 September in die eindstryd wil speel, sal as oorwinnaar van die veld stap.
Intussen het VDE II en Franschhoek III hul onderskeie ligas gewen en beide is dus WP-kampioene.
Dis net ’n jammerte dat Hamediehs nie een van die semifinaliste is nie, want dan het die driemanskap gewys dat geen span sommer afgeskryf kan word nie en dat enigeen op die dag die bordjies kan verhang. Dat die sogenaamde sone-spanne wel vanjaar die kaarte in Superliga B deurmekaar gekrap het, is op die punteleer bewys.
UWK het All Saints Saterdag terug tekenbord toe gestuur deur hulle met 60-28 te klop en gewys hulle gaan nie toelaat dat Franschhoek Saterdag oor hulle loop nie. Dat almal se oë op die halfeindstryde in Superliga B gerig is, is gewis, want Franschhoek en VDE wil volgende jaar na Superliga A opskuif.
) Die bepalings vir die halfeindstryde op City Park is soos volg:
. Superliga A:
Hamiltons t. Maties en Durbell t. UniMil.
.
Superliga B:
UWK t. Franschhoek en Kraaifontein t. VDE.
.
Superliga C:
Macassar t. Atlantis en Goodwood t. Primrose.