Humor en geloof – dít is die twee boustene waarop ’n Idasvalleier haar pad na ’n kanker-vrye lewe gebou het.
Tydens vanjaar se borskankerbewustheidsmaand in Oktober deel die lewenslustige Lorainne Telemachus (80) haar verhaal.
Volgens Telemachus het sy jare lank gevoel iets is fout met haar linkerbors, maar vele doktersbesoeke en borsondersoeke later was daar geen uitsluitsel oor wat presies fout was nie.
“Een dag gaan ek na dokter Leon de Klerk toe en ek sê hier is iets verkeerd. Ek sê toe hy moet van onder af voel en toe hy voel, het ek onmiddellik sy hand weggeslaan. Die pyn was te erg,” sê sy.
Skanderings by die plaaslike Mediclinic het gevolg en die volgende dag het De Klerk gevra Telemachus, toe 64 jaar oud, moet hom weer kom spreek.
“Hy het na my gekyk en gesê ‘Daar is iets fout’. ‘Gaan julle die bors afsit?’ is al wat ek wou weet. ‘Sit hom af, want ek sukkel al jare lank met die bors.’ Ek sê toe ek is op pad oorsee en hulle moet die bors verwyder, want as ek daar kom, wil ek dans,” vertel Telemachus skertsend.
Haar dokter het glad nie dié reaksie verwag nie – soveel so dat hy Telemachus gemaan het om die situasie ernstig op te neem, maar dié bobaas-stikster sê sy was doodernstig. Later die dag by die werk het sy toe haar kollegas vertel sy het borskanker, maar hulle was toe meer ontsteld as wat sy was. Haar plan was om die diagnose prontuit en sonder skroom aan te pak.
“Ek weet ek het iemand daarbo wat na my kyk,” is haar antwoord.
Kort daarna – twee dae later – is Telemachus weer na die hospitaal waar sy ’n mastektomie ondergaan het.
“Die saal was stampvol met my familie en vriende en die mense het gehuil. ‘Nee, dié is nog nie my begrafnis nie’, sê ek toe sommer. Die volgende dag ná die operasie, toe die mense weer kom, sit ek toe regop in die bed. Hulle wou toe weet wanneer die operasie is. Ek het verduidelik die bors is toe reeds weg en daar is hulle weer aan die huil.”
Telemachus is ontslaan en met ’n positiewe gemoed huis toe.
“Dit het my egter op ’n dag net getref en ek begin toe huil. Ek huil en huil, ek kan nie ophou huil nie en ek bel die dokter. Hy verduidelik toe ’n deel van my is weg . . . ek besluit toe dit is genoeg gehuil. Die pad met die kanker het deel van my alledaagse lewe geword. Ek is te aan die gang en die Here is te goed vir my om in sak en as te gaan sit.
“Op 80 doen ek nog baie. Ek maak gordyne, my naaimasjien staan daar op die tafel en my kos vir die dag is reeds gemaak. Dit is net God’s grace.”
In die 16 jaar sedert haar eie stryd is kanker ook by twee van Telemachus se familielede gediagnoseer en sy het etlike vriende aan kanker verloor.
Telemachus sê spanning bring te veel mense se lewe tot ’n einde. Sy het lank gelede besef sy kan nie toelaat dat spanning en woede haar lewe oorheers nie. “Kanker en spanning is nie maats nie. Almal se gestel is nie dieselfde nie, maar die lewe wil geleef wees. Mense moet minder spanning toelaat en die lewe geniet. My raad vir enigeen wat dieselfde pad moet loop, is om biddend te bly en gefokus te wees op die wonderwerk wat Hy reeds vir ander gedoen het – dit is my inspirasie.”
In kruie en doepa glo Telemachus niks. Sy eet gesond, is daagliks opgewek, bly besig danksy haar naaldwerk en maak vir haar ’n nuwe rok vir ’n sangmiddag volgende week.
“My dank is aan die Vader. Ek is dankbaar vir die dokters – De Klerk en Leon Meiring – en my kinders, my oorlede man, Freddie, en almal wat my oor die jare ondersteun het. Ek weet nie wat voorlê nie, maar ek is gesond.”