’n Bonsai-labirint? Ja, dit is presies wat Johan Morkel van die Boland Bonsai-klub vermag het.
Vir die buite-die-boks-skepping het Morkel tydens die Afrika Bonsai-fees, wat in November as deel van Garden Town Stellenbosch by die Stellenbosch-stadsaal aangebied is, die Forbidden Branch-trofee ontvang.
Die geleentheid word jaarliks aangebied, met alles bonsai op die program. Vanjaar is die 200 beste bonsai in die streek en land uitgestal, stalletjies het ’n verskeidenheid goedere te koop aangebied, werksessies in dié kuns is gehou en top bonsaikenners het hul kennis en vaardighede gedeel.
Die idee van ’n bonsai-labirint is in 2020 tydens die Covid-19-inperking gebore. Morkel en sy mede bonsai-liefhebber, Louis Roos, het toe per uitnodiging deur die plaaslike bonsai-kenner, Willem Pretorius, Saterdagoggende aan die witolien-bonsai’s van Louis Nel by Babylonstoren gaan werk.
“Willem het my gevra of ek bewus was van die spekboom-labirint by Muldersvlei. Ek wou graag na die labirint gaan kyk en het gegoogle waar dit presies is en watter tye mens dit kan besoek,” onthou Morkel.
“Ek sien toe die labirint word ‘die grootste spekboom-labirint in die wêreld’ genoem. Voordat ek egter so ver kon kom om dit te gaan besoek, het ek gesien die labirint bestaan nie meer nie. Die egpaar wat die labirint gebou en in stand gehou het, het verhuis en dit het tot niet gegaan. Ek het ’n foto van die labirint verkry en gedink: ‘Wat van die kleinste spekboom-labirint in die wêreld?’”
Hy het dadelik aan die werk gespring en moes innoveer deur ’n groter voëlbak, in plaas van ’n gewone bonsai-bak te gebruik. Morkel het gate in die bak geboor en die bak met grond gevul.
Daarna het hy spekboomsteggies in die vorm van die oorspronklike labirint geplant. “Ek het die labirint op papier wat dieselfde grootte as die bak was, geteken. Daarna het ek die papier op die bak gesit, gaatjies op die lyne in die papier gemaak en die spekboomsteggies in die gaatjies geplant.
“Mettertyd het die papier vergaan. Alhoewel die meeste steggies gevat het, het ek ’n groot aantal ekstra steggies in ’n ander bak gemaak om te gebruik vir ingeval van die steggies in die labirint sou doodgaan. Laasgenoemde het wel gebeur, so ek moes oor tyd heen baie steggies wat doodgegaan het, met nuwes vervang. Daar is net so oor die 230 spekboompies in die labirint.”
Morkel bieg die projek het baie meer tyd geverg as wat mens sou dink en dat hy dikwels wou tou opgooi, maar hy het deurgedruk en is baie trots op die eindproduk.
“Ek wou nie ’n heining van spekboompies bou nie, maar ek wou elke spekboompie ’n afsonderlike miniatuur-bonsai maak. Om dit reg te kry was geweldig tydrowend. Ek het dikwels gedink om maar die labirint te los!
“Die grootste uitdaging was om te verhoed dat die bonsai’s (wat sowat 3 cm hoog is) sytakke vorm. Sytakke sou die gange tussen die rye toegroei. Dié wat spekbome ken, sal weet dat spekbome graag nuwe botsels aan die stam vorm. Ek moes, veral die laaste paar weke voor die uitstalling in Stellenbosch, elke dag met ’n skêrpunt of mes nuwe botsels afkrap.
“Hierdie stukkies nuwe groei moes met ’n tweezer verwyder word. Ek moes ook so fyn as moontlik klippies kry om tussen die boompies te gooi, juis omdat die boompies self ook kleiner as ‘normale’ bonsai’s is. Intussen moet die labirint ook skoon gehou word van onkruid wat oral in die bak opgekom het.”
Dan was daar natuurlik ook die onsekerheid of die skepping wel ’n bonsai is, maar dit is gou deur Pretorius uitgeklaar toe Morkel ’n foto van die labirint met hom deel. “Hy was baie opgewonde (soos hy maar oor enige bonsai is) en het gesê ek moet die labirint vir die ABC6-konvensie inskryf,” onthou Morkel.
“Ek wou graag hê dat hy en ander die labirint in lewende lywe sien en het dit na ons laaste maandvergadering voor die konvensie geneem. Die kenners het gereken dit is iets besonders en ek moet hom wel op die konvensie uitstal. Op die ou end het die beoordelaars ook gereken die labirint is iets besonders en het die labirint die Forbidden Branch-trofee gewen.”
Volgens Pretorius word die trofee toegeken vir uitsonderlike vindingrykheid en kreatiwiteit. Dit word toegeken aan mense wat iets skep wat buite die boks is, deur ’n paneel bestaande uit die president van die African Bonsai Association (ABA), die president van die South African Bonsai Association en twee oorsese bonsai-kunstenaars.
Hulle was eenparig in hul besluit dat Morkel die trofee verdien.
Pretorius vertel meer oor die geskiedenis van hierdie merkwaardige trofee: “In 2017 by die agtste Wêreldkonferensie in Saitama, Japan, is Suid-Afrika deur Hannes Fritz verteenwoordig. Hy het op die verhoog aan ’n boom gewerk uit die kwekery van Kimura, wat beskou word as die top-kunstenaar in Japan. Om te sê sy senuwees was gedaan, is nie oordrewe nie. Dink net daar sit sowat 2 000 Japannese en volg jou elke beweging . . .
“Hannes het die boom begin ontwerp en ná sowat ’n uur vir Kimura nader geroep. Hy wou ’n nogal stewige tak afhaal en wou weet of Kimura saamstem. Die vertaler het aan hom Hannes se plan vertel en hy het eenvoudig weggestap. Hannes was heeltemal uit die veld geslaan en het maar met bedrading voortgegaan. Hy het egter elke keer teruggekeer na die problematiese tak.”
Pretorius sê hy het weer vir Kimura nader geroep met dieselfde versoek, maar dit het dieselfde gevolge gehad. “Toe hy daarna die tak afknip het die Japannese skare hoorbaar hulle asem ingetrek! Nadat hy die boom klaar ontwerp het, het Kimura weer op die verhoog verskyn en met sy hande agter sy rug om die boom gestap.
“Hy het toe aan die voorkant van die boom gaan staan en gebuig en toe weggestap. Tot vandag weet die bonsai-gemeenskap nie of dit sy goedkeuring weggedra het nie. Jonathan Cain, president van ABA, het toe die tak gaan haal en teruggebring na SA en daarvan die trofee gemaak. Dit is dus ’n ideale trofee vir mense wat stroom-op swem.”
En dis juis die rede waarom Morkel se kreatiewe projek die trofee verdien het. Maar gaan hy in die toekoms daarmee voort? “Ek moet nog besluit oor die pad vorentoe met die labirint – dit voel vir my dit is te ’n tydrowende werk om dit in stand te hou,” skerts hy.