Speler vra hulp vir ’25-toer

Uan Jumat (18) se vinnige voetwerk het hom die kans besorg om na Spanje te reis, maar hy het ondersteuning nodig om daar te kom.


Uan Jumat (18) se vinnige voetwerk het hom die kans besorg om na Spanje te reis, maar hy het ondersteuning nodig om daar te kom.

Uan se ouma, Chriszelda Williams, sê sy kan nie ’n tyd onthou dat hy sonder ’n sokkerbal was nie.

Sokkertalent blyk in die gene te wees aangesien Uan se oupa Bennie ook sy afrigter is.

Nou het al die jare van linkervleuel speel dié inwoner van Idasvallei die geleentheid gebring om as lid van die Bt Football Recruitment Agency-span, wat in September 2025 in ’n vertoontoer speel, deel te neem.

“Ek is baie opgewonde. Ek is die afgelope drie maande deel van die agency en dit is wonderlik om saam met die ander spelers te speel.

“Spoed is my groot fokus vir volgende jaar se toer en ek werk daaraan om my spoed te verbeter,” sê Uan, wat vir die Oriental Gunners-sokkerklub speel.

Min dinge verskerp dié Hoërskool Lückhoff-leerder se fokus soos sokker en sy droom is om uiteindelik ’n professionele sokkerspeler te word.

“Dit verg baie werk, van ons ook, maar ons is baie opgewonde. Ons is vasbeslote om hom daar te kry,” sê Chriszelda.

Uan woon by sy grootouers, wat albei pensioentrekkers is.

Die gesin spook nou om die R48 000 in te samel om onder meer die vliegtuigkaartjies, verblyf, visum en nodige sportklere te dek.

“Ons het reeds hulp van die Stellenbosch Com Watch-groepie ontvang, wat beteken die aansoek vir Uan se paspoort is gedek.

“Ons is so dankbaar vir die skenking. Die Here het reeds mense op ons pad gestuur om te help en ons vertrou hy sal nog deure vir Uan oopmaak,” meen sy.

Die grootouers sê ten spyte van uitdagings laat Uan nie toe dat sy omstandighede ’n verskoning vir hom is nie en hulle sal hard werk om hom in Spanje te kry.

  • Om te help met Uan se toerfonds, kontak sy grootouers, Chriszelda by 083 559 5671 of Bennie by 076 372 8155, of stuur e-pos na oriontgunnersfc@gmail.com.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.