Spelers se passie vir netbal lei tot stigting van nuwe klub

Toe die kinders in die buurt sê sy moet ’n klub begin, het Mariana King gehuiwer omdat sy nie veel van netbal geweet het nie, maar sy het ook geweet sy kan nie die kinders in die steek laat nie.


Toe die kinders in die buurt sê sy moet ’n klub begin, het Mariana King gehuiwer omdat sy nie veel van netbal geweet het nie, maar sy het ook geweet sy kan nie die kinders in die steek laat nie.

Kort daarna is Cloetesville se jongste netbalklub, die Cloetesville-netbalklub, verlede maand begin.

“Ons het regtig niks gehad nie – nie nette, balle of selfs ’n fluitjie nie. [Cloetesville Primêr] het ingestem dat ons hul bane gebruik, maar dit was al wat ons gehad het,” verduidelik King.

Elke week sluit nuwe maatjies by die klub se oefening op Dinsdae en Donderdae aan. Die ouer, meer ervare spelers neem die drie spanne deur hul opwarming – eers ’n draf om die baan, dan ’n paar strekoefeninge en dan begin die hand-oog-koördinasie-oefening.

Die o.13-, o.15- en die senior B-spanne oefen saam. Die klub is ook reeds deel van die Stellenbosch-netbalsubdistrik.

Hoewel hulle op hierdie tydstip slegs een stel netbalhempies het, is hulle dankbaar vir al die borge wat hulle reeds ondersteun het.

King sê sy het na ’n oud-kollega uitgereik vir hulp en kort daarna het dié se dogter ingespring om te help.

Ilze Gideons het ’n passie vir netbal en toe sy van die klub hoor, het sy onmiddellik ingespring.

Gideons sê die klub het ’n ware inspirerende storie, veral nadat hulle derde in die onlangse Paasfees-toernooi geëindig het.

“Pppprrrrtt!” skree iemand van die kantlyn af en die oefeningswedstryd tussen die o.13- en o.15-spanne begin.

Ten spyte van die min toerusting verduidelik Jade Fortuin (16) van die senior span sy het haar voormalige klub verlaat vir die nuutgestigte een.

“My hoop is die klub is een van die dae die topspan in die [plaaslike netbal-unie]. Ek speel vir die Hoërskool Cloetesville en was by ’n klub, maar ek is baie tevrede,” sê sy.

By die Cloetesville-netbalklub speel die meisies en seuns saam. Volgens Elkeano Koopman (16) was hy voorheen deel van twee ander klubs, maar het gevoel hy sou meer geleenthede as deel van die nuwe klub kry. “Dit het gevoel asof die gunstelingspelers [by my vorige klub] voorgetrek is. Ek ken Auntie Mariana ’n rukkie en het geweet sy sou ons nie in die steek laat nie,” meen hy.

Elkeano sê die lede van die nuwe klub is vol passie vir die sport en sal sommer gou goed as ’n span saamwerk.

Jaylynn Davids (14) van Klapmuts is een van die klub se netbalspelers om dop te hou. Haar droom is om uiteindelik vir die Proteas te speel.

King sê hoewel die stigting van die klub by tye uitdagend was, het sy ’n goeie span wat saam met haar werk.

“Ek het aan hulle verduidelik ons almal leer saam, want ek weet self nie veel van netbal nie. Dat dit die kinders is wat die klub wou hê, eerder as om ná skool rond te loop en verkeerde dinge te doen, motiveer my,” vertel King.

Intussen kom die netbalspelers van Idasvallei, Klapmuts en Cloetesville vir hul weeklikse oefeninge bymekaar.

  • Kontak King by 083 599 0289 vir meer inligting oor die klub of om bystand te verleen.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.