Avril Fillies
Twee o.20-spelers van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub is deur die Griffons in Welkom en die Griekwas in Kimberley opgeraap om hul provinsiale o.20-spanne te verteenwoordig.
Jeffwin Wesso (20) van Groot-Brakrivier het by die Griffons aangesluit en DeAndre Mouwers (20) van Raithby by die Griekwas. Jeffwin het al in twee wedstryde gespeel en in albei het die Griffons hul teenstanders goed afgeransel. DeAndre het die afgelope Saterdag (13 September) in Kimberley aangemeld en wag nog om sy buiging te maak.
Jeffwin is ‘n produk van die Hoërskool Outeniqua in George en DeAndre van die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes. Albei was die senterpaar by VDE, maar Jeffwin het sy buiging onder die afrigter Jacques Juries op flank gemaak.
“Dit was vir my ‘n groot eer om net in die groep te wees – en toe ek gekies word om my buiging teen die Griekwas te maak. Ek is op flank gekies omdat ek ‘n veelsydige voor- en agterspe- ler is, maar ‘n beter bydrae as flank tot die speelpatroon van die Griffons kan lewer,” sê hy.

Die afrigter wat die grootste invloed op hom en sy spel gehad het, is Jaco Jansen van Rensburg. Hy het Jeffwin geleer om die rugby wat hy vandag speel, toe te pas.
Hy bewonder Josua Tuisova van Fidji se spel en hoe hy met die bal hardloop.
“Wat ek by die twee afrigters by VDE – Riaan Timmie en Stefan van der Hoven – geleer het, is dat jy nie altyd gaan wen nie, maar dat jy jou kop hoog moet hou, want daar sal wel ‘n volgende wedstryd wees waar jy beter kan doen en jy moet altyd vir jou spanmaats speel,” sê hy.
VDE het vanjaar het in Superliga A gespeel en hul teenstanders het nie juis dinge op die veld vir hulle maklik gemaak nie. Sy boodskap aan sy VDE-spanmaats is dat hulle net kan verbeter op die posisie waar hulle op die punteleer geëindig het en dat van hulle hopelik ook volgende jaar vir provinsiale spanne kan uitdraf.
DeAndre is ‘n volbloed-senter en die afrigters wat hom geslyp het, is Clayton Daniels, Randy Brinkhuis en Hein Gordon.
“My droom is om jonger spe- lers te inspireer, want ongeag waar jy vandaan kom, kan jy steeds jou drome en doelwitte bereik. My ma is my grootste inspirasie – nie ‘n rugbyspeler nie. Dit maak nie saak of sy goed of sleg voel nie; sy gee elke dag haar beste en alles om my te help dat ek my drome kan verwesenlik,” sê DeAndre.

Hy deel dieselfde sentiment oor VDE se o.20-afrigters as Jeffwin, maar voeg by dat hulle hom ook geleer het dat harde werk nie ongesiens verbygaan nie en dat jy eendag die vrugte daarvan sal pluk.
“My boodskap aan my VDE-o.20-spanmaats is om dankie te sê dat hulle my altyd onder- steun en deur lekker en moeilike tye aangemoedig het.
“Ons het saam swaargekry teen die groot kanonne in Super-liga A, maar ons kon mekaar op en weg van die veld af aanmoedig en optel om net ons beste te gee. Volgende jaar moet hulle net voortbou op dit wat hulle vanjaar geleer het, want hulle kan verbeter op waar ons geëindig het,” sê DeAndre.



You must be logged in to post a comment.