Paul Roos Gimnasium se nommereen-tennisspeler, Ernst Gouws, en sy spanmaats is dié naweek in die Zest Fruit Gerrie Berner-toernooi in Stellenbosch in aksie.Foto: Charmaine Sander Photography


Die jaarlikse Zest Fruit Gerrie Berner-toernooi word die komende naweek vir die 17de keer deur Paul Roos Gimnasium (PRG) in Stellenbosch aangebied.

Die plaaslike skool se eerste tennisspan het oor die jare sy staal gewys deur verlede jaar die titel vir die vierde agtereenvolgende jaar te wen met ’n 4-0 oorwinning oor Grey-kollege sekondêr in die eindstryd.

PRG word verteenwoordig deur Ernst Gouws, Johan van Wijk, Stephen Claassen, Willem de Waal, Leonardo Sola, Echard de Kock en Jake Downie. Gouws beklee tans die nommereen-plek op die Tennis Suid-Afrika se o.18-ranglys.

Die skole wat van Donderdag 17 tot Saterdag 19 Februarie aan die toernooi deelneem, is PRG, Grey-kollege sekondêr, Hoërskool Waterkloof, Afrikaanse Hoër Seunskool, Kearsney College, Clifton High, Hoërskool Outeniqua, Hoër Landbouskool Oakdale, Hoërskool Stellenbosch, Hoër Jongenskool Paarl, King Edward School en St. Stithians College.

Zest Fruit word die afgelope vier jaar as hoofborg met die bekende Gerrie Berner-toernooi verbind. Volgens Freek Dreyer, besturende direkteur van Zest Fruit, is dié jare lange verbintenis met die toernooi gekoppel aan PRG se toewyding tot die ontwikkeling van gehalte tennisspelers. Dit het hulle geïnspireer om die borgskap uit te brei en PRG-tennis as geheel te ondersteun.

Wedstryde sal aanlyn gestroom word en al die aksie kan op die SuperSport Schools-app gevolg word.

You need to be Logged In to leave a comment.