Spelfees weer ’n goeie Wow-ervaring

Van die beste Afrikaanse spellers in die land woon in die Wes-Kaap.


Van die beste Afrikaanse spellers in die land woon in die Wes-Kaap.

In die nasionale eindronde van 2019 se Sanlam WOW-spelfees wat Saterdag 19 Oktober by die Universiteit Stellenbosch gehou is, het die Wes-Kaap 11 van die 30 wenners opgelewer, terwyl die Noord-Kaap vyf leerders onder die top-30 gehad het.

Altesaam 376 leerders van 187 skole oor Suid-Afrika heen het aan die nasionale eindronde deelgeneem.

Die finaliste het deurgedring in ’n reeks uitdunne wat gedurende die jaar in die land aangebied is.

Elsa-Marié van der Watt van Hoër Meisieskool Bloemhof het derde plek in die kategorie Afrikaans Huistaal vir graad 10 behaal terwyl Tatum Ferrier eerste plek in dieselfde kategorie vir graad 7 behaal het.

WOW ondersteun meer­taligheid en vanjaar het 84 leerders uit die Noord-, Oos- en Wes-Kaap deelgeneem aan die WOW-Spelfees vir Engels Eerste Addisionele Taal, wat vanaf 2016 deel van die kompetisie is. Sedert 2017 bied WOW ’n Xhosa-spelfees vir graad 6 en 7 in vier distrikte van die Wes-Kaap aan.

In die afdeling vir Engels Addisionele Taal het leerders van graad 6 tot 9 meegeding. In hierdie kategorie kom vyf van die top12-leerders uit die Wes-Kaap en vier uit die Oos-Kaap.

“Elke keer as ek dink die standaard is vreeslik hoog, dan oortref die leerders hulself,” het Fiona van Kerwel, projek­bestuurder van WOW gesê.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek sê: “Die standaard was vanjaar selfs nog hoër – met leerders wat tot 80 rondes se woorde moes spel voor almal behalwe die wenner uitgeval het. Meer as 700 skole het vanjaar deelgeneem.”

Wenners het elkeen ’n kontant­prys, ’n medalje en ’n skild van Sanlam en ’n balkie vir hul skoolbaadjies ontvang, asook ’n boekprys van NB-uitgewers. Die eersteplekwenners het daarmee saam elkeen ’n slimfoon of tablet gekry.

Ander borge is die Universiteit Stellenbosch, kykNET, TAO (Trust vir Afrikaanse Onderwys), Het Jan Marais Nationale Fonds en Millenium Trust.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.