Is dit nou “Stellenbok” of “Stellenbots”, is die vraag wat sosialemedia-gebruikers en plaaslike inwoners van Stellenbosch verlede week gevra het toe ’n foto van ’n pleknaambord waarop die dorp se naam verkeerd gespel is aanlyn versprei is.
Die pleknaambord wat langs die M12 (Stellenbosch Arterial-pad) staan, het omtrent motoriste se oë laat rek en hulle laat kop krap oor hoe dié spelfout by die plaaslike owerhede se oë verbygegaan het.
Een inskrywer, Jeanne Smith, het op Facebook gevra “wie is die persoon wat die kwaliteitskontrole doen voordat die padteken opgaan?” – waarna baie ander inskrywers die lae slaag-vereiste-standaard vir die spelfout blameer het. “Dis nou as gevolg van leerders wat net 30% moet slaag vir tale en 20% vir wiskunde,” het ene Louise Steynberg geskryf.
“Nou praat julle Stellenbog,” het nog ’n sosialemedia-gebruiker, Aletta Pretorius, in antwoord op die spelfout geskryf.
“Dalk is dit gedurende beurtkrag gedoen,” het nog een geskerts.
Die foto is wyd versprei te midde van die stormreën en oorstromings in Stellenbosch en omliggende gebiede met een sosialemedia-gebruiker wat die foto as ’n ligter oomblik beskryf het. “Die plasing het my dag gemaak ná al die oorstromings,” het Ashley Kriel geskryf.
Ander sosialemedia-gebruikers het bloot die Stellenbosch-munisipaliteit die blaam vir die foutjie gegee. Ene Kahri Hennes-Swart het op sosiale media geskryf dat “Stellenbosch-munisipaliteit nie [kan] spel nie”.
Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het egter in teenstelling aan Eikestadnuus gesê dat die munisipaliteit nie verantwoordelik gehou kan word vir pleknaamborde langs provinsiale paaie nie.
“Stellenbosch Munisipaliteit is slegs verantwoordelik vir naamborde langs munisipale paaie,” het Grobbelaar verduidelik.
Volgens hom het die munisipaliteit nietemin die spelfout op 12 Junie by die Provinsiale Padowerheid aangemeld nadat die munisipaliteit daarvan bewus geword het. “Die munisipaliteit is bewus van die bord en het dit reeds by die Provinsiale Padowerhede aangemeld,” het Grobbelaar gesê.
Inwoners word aangeraai om sulke foute of enige ander munisipale kwessies direk aan die munisipaliteit te rapporteer by 021 808 8999 of per WhatsApp na 079 622 4722.
Die Provinsiale Padowerheid is vir kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.