Daar is vandeesmaand nuwe programme en ou gunstelinge op VIA (DStiv-kanaal 147) te sien, insluitend Huisgenoot blokraaibestes met Cintaine Schutte (foto) as aanbieder.Foto:

Credit: SYSTEM

Soos altyd dis daar nuwe programme in die pyplyn – en is daar iets vir almal – op VIA (DStv-kanaal 147). Die nuwe jaar skop af met twee splinternuwe reekse en ’n hoop ou gunstelinge keer terug vir nuwe seisoene.

  • Die meeste mense neem maande – selfs járe – om ’n troue te reël. Wat nou nog van één dag! Dié keer vat die akteur Greteli de Swardt die leisels oor by Mila Guy in Eendag en help paartjies om hul troue in ’n enkele dag te reël. Dit word vanaf Woensdag 11 Januarie om 20:00 met heruitsendings Vrydae om 21:00 en Sondae om 18:30 uitgesaai.
  • Die argitekte is terug met nog meer indrukwekkende ruimtes wat jou inspirasie vir jou eie spasie sal gee. In elke episode wys ’n argitek sy of haar huis, ’n gebou wat vir hom of haar inspirasie bied en ’n gebou wat hy of sy self ontwerp het. Dit word vanaf Donderdag 12 Januarie om 17:30 met heruitsendings Maandae om 19:30, Saterdae om 16:30 en Sondae om 16:00 uitgesaai.
  • In Date, agteruit word dinge agterstevoor gedoen. As jy ’n kykie in die toekoms kon kry, sou jy steeds die eerste tree gee na ’n nuwe verhouding? In elke episode ontmoet twee loslopers mekaar in die bed. Daarna “trou” hulle en leer ken mekaar eers daarna. En alles gebeur in een dag – van die ontmoeting van die families tot die huweliksonthaal! Dit word vanaf Vrydag 13 Januarie om 20:00 met heruitsendings Maandae om 22:00, Saterdae om 22:00 en Sondae om 12:00 uitgesaai.
  • In Keerpunt se bestes word van die mees indrukwekkende en angswekkende ware stories van gewone mense se dramatiese ervarings en hoe dit hul lewens handomkeer verander het gedeel. Die program word vanaf Woensdag 18 Januarie om 21:00 met heruitsendings Saterdae om 11:30 uitgesaai.
  • Die babbelbende is ’n opvoedkundige kinderprogram. In dié reeks vir kinders tussen vier en 10 jaar oud word nuuskierige agies se vrae beantwoord. Paloeka, Palawa en hul beste vriendin, Bibi, kuier in die babbelboomhuis terwyl Ben allerlei plekke besoek. Hulle sing liedjies en leer ook meer oor woorde en gesegdes, somme en gevoelens. Dit word daagliks om 07:30 vanaf Sondag 22 Januarie uitgesaai.
  • Minki van der Westhuizen hou steeds die fort met haar gewilde geselsprogram, Minki, en oudergewoonte raak bekendes gemaklik op haar rusbank, met ’n verrassingsbesoek van ’n betekenisvolle gas. Dié keer deel die finansiële kenner Gerda van der Linde haar wyshede en slim planne met kykers. Sy gee weekliks raad wat kykers sal help om hul geldgedrag en geldgewoontes beter te verstaan – en sodoende beter geldbesluite te maak. Minki word vanaf Maandag 23 Januarie om 17:30 met heruitsendings Donderdae om 21:30 uitgesaai.
  • Met die eerste seisoen van Huisgenoot ware lewensdramas: Vlees en bloed is kykers aan ’n draadjie laat hang toe die laaste episode met ’n oop einde afgesluit het. Nóú kan kykers die volle storie kry in die nuwe seisoen – én meer. Dit begin Maandag 23 Januarie om 20:00 met heruitsendings Vrydae om 22:00.
  • Sit weer jou dink-hoed op, maak jou potlood skerp en kry jou blokraaikennis reg! Die nuwe seisoen van Huisgenoot blokraaibestes skop af en die land se flinkste woordspelers is genooi om te speel vir die Blokraaibeste-titel. Cintaine Schutte is weer vanaf Maandag 23 Januarie om 20:00 aan die stuur van die stophorlosie en leidrade. Heruitsendings word Saterdae 09:00 en Sondae 22:00 uitgesaai.
  • Kort jy inspirasie vir jou nuwejaarsvoorneme? Ses oorgewig deelnemers wys die vetrolle wie’s baas in die splinternuwe reeks, Die groot afskud. En met die hulp van ’n fiksheidsafrigter, ’n sielkundige en dieetkundige gaan hulle dié reusetaak aanpak soos nog nooit tevore. Dit begin Dinsdag 24 Januarie om 20:00 met heruitsendings Saterdae om 19:00 en Sondae om 11:00.
  • Groen vingers of te not, Tuintoere se nuwe seisoen sal jou lus vir tuinmaak ’n hupstoot gee! Stap vanaf Donderdag 26 Januarie om 17:30 saam met Derrich Gardner deur van Suid-Afrika se mooiste groen oases. Heruitsendings is Saterdae 12:00 en Sondae 15:30.
  • Kom sit aan by Martelize se stamtafel. Die radio-aanbieder Martelize Brink nooi elke week ’n bekende gas om saam met haar te kook. Stamboomnavorser Aubrey Springveldt bekyk die gas se herkoms en Brink gebruik dit dan as inspirasie vir die ete wat sy maak. Van die bekendes wat vanaf Vrydag 27 Januarie om 17:00 aansit, is Rolanda Marais, Quanita Adams, Mila Guy en Theodore Jantjies. Heruitsendings word Saterdae 12:30 en Sondae 10:30 uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.