Die 14de Dagbreek-straatmyl word Woensdag 2 Oktober in die boomryke Victoriastraat – een van die mooiste roetes in Suid-Afrika – as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.
Die Dagbreek-straatmyl word jaarliks te ere van De Villiers Lamprecht aangebied.
Vanjaar is ’n spesiale viering vir dié jaarlikse geleentheid, want dit is die 60ste herdenking van Lamprecht se droommyl – die eerste deur ’n Suid-Afrikaanse atleet. Hy het dié prestasie op 13 November 1964 by Coetzenburg behaal, en was ook die eerste, en tot dusver enigste atleet, wat dit kaalvoet kon doen.
Die straatmyl om nuwe talent te en ook om erkenning te gee aan legendariese atlete van gister.
Vanjaar vereer die organiseerders Zola Budd – 40 jaar nadat sy op 5 Januarie 1984 die wêreldrekord in die 5 000 m op Coetzenburg opgestel het en aan die Olimpiese Spele in Los Angeles deelgeneem het.
Budd is steeds die nasionale rekordhouer in die vrouemyl met ’n tyd van 4:23,38 wat sy op 4 Maart 1991 opgestel het. Sy spog met ’n beste myltyd van 4:17,57, wat sy in 1985 opgestel het en 38 jaar die Britse rekord was.
Die opeafdelingwenners van 2023 keur vanjaar terug om hul titels te verdedig. Kayla Jacobs en Lisha van Onselen, wat verlede jaar onderskeidelik eerste en tweede in die vroue se opeafdeling geëindig het, het tot dusver ’n goeie seisoen beleef, met albei wat Suid-Afrika by die Wêreldlandloopkampioenskap in Belgrado, Serwië, verteenwoordig het.
Deon Lee Hendricks, die wenner van die 2023-mans-opeafdeling, sê hy mik vanjaar vir ’n droommyl in Victoriastraat. Hy het vanjaar die 4 km- en 10 km-wedloop by die Boland-landloopkampioenskap gewen, en die derde plek in die nasionale landloopkampioenskap.
Ashley Smith, wat in 2022 die tweede plek in die Dagbreek Straatmyl behaal het, het ook sy deelname in vanjaar se kompetisie bevestig.
Die Olimpiese driekampatleet Vicky van der Merwe sal vanjaar ook haar buiging maak.
Vanjaar bied die Pretmyl atlete weer die kans om snaaks aan te trek en hulself te wees. Daar sal pryse wees vir die atlete wat die beste (en prettigste) geklee is. Sewe wedlope met 13 afdelings – van o.13 tot meesters en ’n skaatsplank- afdeling – word vanjaar aangebied.
Registrasie begin om 15:00 voor die Dagbreek-koshuis en die eerste wedloop begin om 17:00. Die inskrywingsfooi is R40 per persoon.
- Kontak Francois by 083 368 5948 of e-pos info@straatmyl.co.za met navrae.