Maandag 16 Junie (Jeugdag) was ‘n geskiedkundige dag vir Wemmershoek toe dié gemeenskap hul eerste amptelike Jeug-sportdagviering aangebied het.
Spanne het vir die dag by die Wemmershoek-sportterrein byeengekom met sowat 400 kinders wat die dag saam geniet het.
Volgens Hellene Fisher was dit ‘n besonderse geleentheid met organisasies en programme van Wemmershoek, wat almal ingespring het om die dag vir die jongspan moontlik te maak.
Fisher vertel die Wemmershoek- junior rugbyspan het hulle knap gedra om op kort kennisgewing weg te spring met reëlings. Die Wemmershoek-buurtwag het toegesien dat alle veiligheidsmaatreëls nagekom is.
Die Wemmershoekdam-boogskuttersklub en verskeie plaaslike voedingsprojekte het ‘n demonstrasie aangebied en toegesien dat niemand ná al die sport-aksie honger huis toe is nie.
Vineyards Juniors, RFC Franschhoek Juniors en die junior Wemmershoek-spanne het op die rugbyveld kragte gemeet.
Die organiseerders bedank al die borge, vrywilligers en veral die jeug wat die dag moontlik gemaak het.