SPORT: Daar is g’n keer aan die Maties

Rugbyklubs wat nou al meer as vier ligawedstryde gespeel het, is tans besig om hul plekke op die punteleer te verstewig om te verseker dat hulle onder die eerste vier posisies in hul onderskeie ligas van die Westelike Provinsie-rugbyunie eindig.


Rugbyklubs wat nou al meer as vier ligawedstryde gespeel het, is tans besig om hul plekke op die punteleer te verstewig om te verseker dat hulle onder die eerste vier posisies in hul onderskeie ligas van die Westelike Provinsie-rugbyunie eindig.

Slegs een ronde word gespeel en die twee spanne wat aan die einde van die seisoen die eerste twee posisies beklee, is verseker van ’n plek in die halfeindstryd, terwyl spanne in posisies drie tot ses in kwarteindstryde moet uitspeel om te bepaal watter twee spanne die eerste twee in die halfeindstryde gaan ontmoet.

Die drie spanne wat verlede jaar uit Superliga C gepromoveer het, naamlik Van der Stel-Evergreens (VDE), Kraaifontein en Hamediehs, wys nou die spanne in Superliga B dat daar in dié kompetisie met hulle rekening gehou moet word.

VDE is nog op koers en is steeds onoorwonne nadat hy Saterdag 18 Mei Belhar op tuisbodem met 49-24 geklop het. Eerskomende Saterdag (25 Mei) reis VDE na Kylemore vir die eerste van drie derbies. In die verlede het VDE elke keer tweede geëindig. ’n Interessante stryd word verwag, want Kylemore het Saterdag tuis teen Strand met 22-28 vasgeval en sal wil vergoed vir die nederlaag.

Franschhoek kon ook nie vir Kraaifontein troef nie en het met 27-23 huis toe gekeer. Franschhoek reis dié naweek na Langa vir sy volgende kragmeting.

In Superliga A het die enigste span van Stellenbosch, Maties, Saterdag met 19-22 met Valsbaai in Constantia afgereken. Die studente het die volgende drie Saterdae (25 Mei, 1 en 8 Junie) loslootjies voor hulle Saterdag 15 Junie na Brookside in Claremont reis om kragte met die Villager-rugbyklub te meet.

In Superliga C het Pniël Villagers die beste van hul wegwedstryd in Noordhoek teen Masiphumelele gemaak en met 17-29 gewen. Die span van die Dwarsriviervallei ontvang Saterdag besoek van Primrose en sal moeilik op sy tuisveld gestuit word.

In die Noordelike liga het Delft sy voorsprong teen Stellenbosch-Coronations vergroot deur Corries in Idasvallei met 19-30 te klop. Corries reis Saterdag na die vlootbasis in Gordonsbaai vir sy kragmeting teen Gordonsbaai Pioneers.

Die naweek speel Excelsior en Raithby Universals (RU) hul derbystryd op die Cloetesville-sportterrein. Excelsior het Saterdag Windmeul naelskraaps met 29-32 geklop. RU moes teen Blakes speel, maar laasgenoemde het nog nie dié seisoen veld gevat nie en hul teenstanders ontvang punte op ’n skinkbord.

In die Suidelike liga is Blue Stars sy eerste plek kwyt, nadat hy Saterdag ’n loslootjie gehad het. Die span is ook nie Saterdag in aksie nie en het besluit om die twee Saterdae te gebruik om, as deel van ’n spanbousessie hul kleedkamer op te knap.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.