Die Franschhoek- en Van der Stel-Evergreens-rugbyklubs het Saterdag (14 September) gemengde welslae in die Superliga B-eindstryd en uitspeelwedstryd op City Park in Athlone behaal toe net een van die twee as wenner van die veld gestap het.
Franschhoek het gewys dat hy goed genoeg is om bevordering na Superliga A te wen deur Kraaifontein met 16-12 te klop, terwyl VDE met 64-22 teen UWK verloor het.
Franschhoek kom Saterdag (21 September) teen SK Walmers in ’n promosie-relegasiewedstryd te staan om te bepaal wie die derde span gaan wees om aanstaande jaar saam met UWK en VDE in Superliga A te speel of weer in Superliga B in aksie sal wees.
Die kragmeting gaan ’n taaie wees, want SKW was die eerste span wat Hamiltons, die Superliga A-kampioen, geklop het en is nie van plan om maklik sy plek in Superliga A af te staan nie.
UWK het Saterdag gewys waarom hy bo-aan die punteleer in Superliga B geëindig het toe die studente VDE in hul wedstryd om die kampioen te kroon, behoorlik ore aangesit het.
Van die afskop af het die studente kringe om VDE gehardloop en met aftrappe die wind heeltemal uit VDE se seile gehaal. UWK het die wind agter sy rug tot sy eie voordeel gebruik en nie toegelaat dat VDE enige ritme kry nie.
En toe Eagan Matroos, flank van VDE, met ’n enkelbesering af is, het niemand die met dekverdediging en samespel met sy mede-losvoorspelers hul hand opgesteek nie.
Rustyd het die studente met 28-0 voorgeloop en almal het verwag dat ’n honderdtal teen VDE aangeteken gaan word.
Verlede jaar het VDE ook in dieselfde groef teen Hamediehs in Superliga C geval toe hy ook net die wedstryd afgehandel het, want albei spanne het reeds vir Superliga B gekwalifiseer. Kritici sal sê dat VDE nie groot oomblikke kan hanteer nie, maar die doelwit van die jaar, om vir Superliga A te kwalifiseer, is reeds bereik.
Bestekopname sal nou gedoen moet word deur te kyk waar VDE versterkings kan inkry, die jaar se vertoning onder die vergrootglas te plaas en wat die pad vorentoe in die af- en voorseisoen gaan wees.
In Superliga C het Macassar soos die afgelope drie jaar nie die laaste hekkie oorgesteek nie, en is deur Primrose met 37-25 getroef. Die wedstryd is ontsier deur al die geelkaarte wat die skeidsregter uitgedeel het en Macassar kon net nie sy kanse benut nie. Hoewel albei spanne na Superliga B vorder, was Primrose ’n meer afgeronde span. Goodwood en Atlantis was gewikkel in ’n stryd om te bepaal wie teen Strand vir promosie-relegasie gaan speel. Goodwood het die wedstryd 24-20 gewen.
In die Top-9 het Blue Stars van Klapmuts weggehardloop teen Young Wesleys van Philippi deur laasgenoemde met 53-15 huis toe te stuur. In ander wedstryde in die liga het Albions en Silvertree 15-15 gelykop gespeel, Caledonian Roses het Sir Lowrians met 36-18 getroef, Violets het Watsonia met 23-12 geklop, terwyl Delft ’n loslootjie gehad het.
Die drie spanne wat bo-aan die punteleer is, is Violets, Delft en Blue Stars, wat sewe wedstryde gespeel het, terwyl die ander net ses voltooi het.
In die WP Vroueliga-halfeindstryde moes ondersteuners asem ophou vir die naelskraapse uitslae, want al vier spanne wil Saterdag in die eindstryd speel. Brackenfell het Busy Bees met 26-15 geklop en Bellville het met 14-12 met Elsiesrivier afgereken. Brackenfell en Bellville pak mekaar om die titel.
In die Challenger-beker het Raithby Universals Fisantekraal met 41-22 kafgedraf, Morningstar het Titans met 36-15 gewen en Stellenbosch-Coronations het Silverleaf met 35-10 geklop.