SPORT: Nelson FC vier seisoen van doele

Die afgelope Saterdag (14 September) was ’n dag van feesviering vir die Nelson Football Club met sy jaarlikse prysuitdeling.


Die afgelope Saterdag (14 September) was ’n dag van feesviering vir die Nelson Football Club met sy jaarlikse prysuitdeling.

Die bestuur, spelers en hul ondersteuners het bymekaargekom om die top-spelers vir hul harde werk die afgelope seisoen te vereer.

Die sportman van die seisoen was Emerson de Vries, met Callister “Ling” Pohl wat as die speler van die seisoen aangewys is. Die span se uitblinker met die skopstewel was Rheado Kipido, terwyl Ivano Brown die spelers se speler van die jaar was.

Nathan Williams se harde werk het hom die prys as die speler wat die meeste verbeter het, besorg.

Volgens die klubbestuur spreek dissipline en mentorskap asook die manier waarop De Vries met sy medespelers te werk gaan, van sy toewyding tot die klub en verdien hy die hoogste erkenning van die klub.

In Pohl se geval het sy goeie eienskappe en spoed hom ’n uitblinker op die veld gemaak en “sy vaardighede maak hom ’n speler van gehalte”.

Die spelers se speler van die seisoen, Brown, se dissipline, vaardighede en sy visie op die veld het hom ’n gunsteling vir die toekenning gemaak.

Kipido was die bobaas-doelskieter en het seker gemaak sy doele vang die net met 19 doele in 10 wedstryde.

Nathan Williams saam met Nelson FC se afrigter, Christo Wenn.

Hy het ook vroeër vanjaar die vinnigste doel in die geskiedenis van dié Stellenbosch- plaaslike sokkerklub aangeteken – net 12 sekondes nadat die wedstryd begin het.

Die span se afrigter, Christo Wenn, kon sy trots nie hou toe hy die trofeë oorhandig het nie. Hy is vol vertroue die komende seisoen sal ’n goeie een wees.

Die span het ook bemoediging van Rhodes Benting en pastoor Randal Visagie ontvang.

Leandrei Kipido, die klub se woordvoerder, was ook Saterdag aan die stuur van sake. Die bestuur is dit eens dat elke speler ’n speler van die wedstryd was en is trots op hulle almal. Die klub is oor twee jaar 120 jaar oud en het groot planne wat wag, maar die bestuur wou nie te veel verklap nie.

Die klub bedank sy leierskap, veral Christo Wenn, Johannes Adams, Minty May en Eugene Menzichel, maar ook die res van die bestuur. ’n Groot dankie gaan ook aan al die borge wat die prysuitdeling moontlik gemaak het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.