SA president Nelson Mandela congratulates Springbok skipper François Pienaar after handing him the William Webb Ellis trophy on 24 June 1995. PHOTO: Jean-Pierre Muller / AFP
In die lig van die 30ste herdenking van die Springbokke se eerste Wêreldbeker-sege van 1995, sal die SAUK die toets tussen Italië en die Springbokke regstreeks uitsaai. FOTO: Jean-Pierre Muller / AFP

JOHANNESBURG – Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), SuperSport en die SAUK het vandag bevestig dat SAUK 2, SAUK-radiostasies en SuperSport (DStv) die Castle Lager-toets tussen die Springbokke en Italië op Saterdag, 12 Julie, regstreeks sal uitsaai. Die wedstryd begin om 17:10 by die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha, en val saam met die 30ste herdenking van Suid-Afrika se eerste Rugbywêreldbeker-sege in 1995.

Die uitsaaiooreenkoms is spesiaal gesluit om hierdie unieke geleentheid vir alle Suid-Afrikaners toeganklik te maak.

Volgens Mark Alexander, president van SARU, gee die 1995-triomf steeds hoop en eensgesindheid aan die land, en dit bly ’n inspirasie vir die nasie. “Ons werk saam met ons uitsaaiers om seker te maak dat alle landsburgers deel kan wees van hierdie gedenkwaardige wedstryd,” sê Alexander.

Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK, sien dit as ’n kernmandaat om sulke nasionale oomblikke tot by elke Suid-Afrikaner te bring en beklemtoon die drie dekades van eensgesindheid en rugby-uitnemendheid wat die Springbokke verteenwoordig.

“As openbare uitsaaier sien ons dit as ons mandaat en plig om van sulke deurslaggewende nasionale oomblikke tot by elke Suid-Afrikaner te bring. Of jy nou in ’n informele woongebied, ’n dorp of ’n stad woon, elke burger behoort die gees van 1995 te kan herleef – ’n gees van hoop, eenheid en uitnemendheid.”

SuperSport se uitvoerende hoof, Rendani Ramovha, voeg by dat hulle trots is om saam met ’n kampioenspan die 30 jaar van Springbok-sukses te herdenk.

Rugbyliefhebbers regoor die land word dus genooi om hierdie geskiedkundige rugbygeleentheid regstreeks te volg, en saam die trots en gees van 1995 te herbeleef.

You need to be Logged In to leave a comment.