Universiteit Stellenbosch (US) se studenteraad (SR) het hul kommer uitgespreek oor “sentimente” wat gister tydens ‘n vergadering van die universiteit se raad vorendag gekom het.
Die US-raad het gister ‘n taalplan wat deur die rektor se bestuurspan voorgestel is, verwerp.
James de Villiers, hoof van kommunikasie by die SR, sê hulle is bang die raad se mosie impliseer dat verandering nie by die US gaan plaasvind nie en studente uiteindelik steeds van die kampus uitgesluit gaan word.
“Die SR herbevestig ons versoek vir parallel-medium onderrig by Universiteit Stellenbosch met Engels as die primêre medium van kommunikasie.
“Hierdie versoek word ondersteun deur alle formele verteenwoordigende strukture (die primkomitee, die Akademiese Belangeraad, die Tygerberg SR en die SR) asook die universiteit se senaat.
“Ons is bekommerd dat die raad nie erkenning gee aan die sentimente van personeel en studente wat direk deur taalimplimentering by die instelling geraak word nie.”
De Villiers sê die SR sal aanhou om die bestuurspan onder druk te plaas om die voorgestelde taalplan se implimentering te verseker.