Stellenbosch Superspar by Helshoogte het agt groot koeke aan die skool vir sy verjaarsdag geskenk. Bo is Gerhard Fritz, Glynis Rippenaar (skoolhoof), Shantal Isaacs en Mandy February. Foto’s: Elmarine Anthony


Vrydag 22 Februarie was ’n gesellige skooldag vir leerders van St. Idas R.K. Primêre Skool omdat die skool twee dae tevore 80 jaar oud geword het.

Die leerders het aan koeke en koeldrank wat deur Stellenbosch Superspar by Helshoogte geskenk is, gesmul.

Glynis Rippenaar, die skoolhoof, sê dit is ’n groot voorreg vir die skool om 80 jaar oud te word met so ’n tradisieryke geskiedenis en Christelike waardes. Dit was ’n geseënde 80 jaar.

Die skool bied hierdie jaar verskillende byeenkomste aan waarin hulle graag wil hê die gemeenskap moet betrokke raak. “Hier heers ’n groot opgewondenheid en positiewe energie wat net tot voordeel van die opvoeding kan strek. Dit is ’n skool waar Godsdiensonderrig nog plaasvind. Die skool beweeg vorentoe met dankbaar­heid en goeie hoop,” vertel Rippenaar, wat al 32 jaar by die skool is.

Sy het haar loopbaan by die skool as ’n posvlak 1-onderwyser begin en is later tot departementshoof en toe skoolhoof bevorder.

“Omdat dit so aangenaam is by die skool, het die tyd verskriklik vinnig verbygevlieg. Ek het in 1987 onder die bekwame hande van Sr. Cynthia begin waar ek geleer is om net my beste te gee.

“Dit was nog soos gister dat die klooster se eetkamer ons personeelkamer was, want al die klasse is vir onderrig gebruik. Die saal wat ons nou gebruik om byeenkomste, vergaderings en gesellighede te hou, is vir vier klasse gebruik.

“Juf. Claudia Adams was die st. 3A-klas se onderwyser op die verhoog en ek st. 3B onder die verhoog. My eie twee dogters het ook hier skoolgegaan en dit was vir my aangenaam om hulle by hierdie uitmuntende skool te hê. In die tagtigerjare was dit glad nie snaaks om klasse van 20 tot 23 leerlinge in jou klas te hê nie. Dit was hemel op aarde.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om 32 van die 80 jaar by hierdie historiese skool deur te bring. Ek salueer my voorgangers wat hierdie skool tot so ’n pragskool uitgebrei het.”

Rippenaar is dankbaar aan al die skool se vennote wat bygedra het tot alle bronne en geldinsamelingsprojekte van die skool.

“Baie dankie aan ons grootste vennoot, Stellenbosch Superspar, asook Remgro, Click Foundation, Jumpstart, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Steers, Kentucky, Ruandi, die alumni’s van St. Idas, die Idasvallei-gemeenskap, prof. M. Ungerer en studente van die Universiteit Stellenbosch, die Woordfees, die Rooms-Katolieke Kerk en Lynne Rippenaar Moses.”

You need to be Logged In to leave a comment.