Wat verlede week by Lückhoff Sekondêr afgespeel het, is hartseer en onaanvaarbaar.
Dit is ’n skande dat leerders op ’n skoolterrein met drank en dwelms gesellig raak asof dit die mode is, en hiervoor moet elke leerder die gevolge dra.
Wat net so onaanvaarbaar is, is die aantal volwassenes wat die leerders (minderjariges) se video op sosiale media versprei het. Dit is bloot onverantwoordelik en teen die wet.
Dis asof ons onsself verlekker in die situasie dat tieners (nog blote kinders) soos grootmense wil optree.
Ons praat nie hul gedrag goed nie. Hulle het hulp nodig en moet gerehabiliteer word; so gou as moontlik.
Wanneer jy weer iets op sosiale media deel, vra jouself af: Is dit opbouend en help dit om die samelewing beter te maak, of vererger ons net die probleem?
Ons hoop van harte dat die leerders hulp sal kry, maar ook die verantwoordelikheid vir hul dade sal aanvaar.