Ek skrik nie sommer vir koue pampoen nie, maar toe ek die navorsing oor die biologiese effekte en gesondheidsgevare verbonde aan selfoontorings begin lees het, het my broekspype begin bewe! Ek het waarlik skrikkerig geword!
Dis nie net ek wat geskrik het nie. Altesaam 190 wetenskaplikes, uit byna 40 lande (39 om presies te wees) het so besorgd geraak oor die effek van hierdie elektromagnetiese straling oftewel EMF’s (electromagnetic fields) wat oor die wêreld losgelaat word, dat hulle in Mei 2015 aan die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies geskryf het.
Hulle het hom versoek om die nasies te waarsku en te beskerm teen toenemende elektromagnetiese bestraling en blootstelling.
Die wetenskaplikes meld spesifiek die bestraling afkomstig van onder meer selfone, koordlose fone en selfoontorings.
’n Mens skrik as jy lees dat chromosome breek, by 1/40 van die toegelate bestraling.
Wat gebeur as chromosome breek? Navorsing sê dat daar ’n verhoogde risiko en voorkoms van kanker is, meer leukemia by kinders, die nuwe siekte van elektromagnetiese sensitiwiteit, met sy gepaardgaande simptome van slapeloosheid, hoë bloeddruk, hoofpyn en ’n vervroegde voorkoms van Alzheimers (vanaf 45-jarige ouderdom).
Dit is glad nie al nie. Ons stadsbeplanners weet duidelik nie van al die gesondheidsgevare en biologiese effekte van hierdie elektromagnetiese bestraling op die mens en alle ander lewende organismes nie.
Die gevaar is nie net vir hierdie generasie nie, maar vir alle toekomstige generasies ook.
Dit is voorwaar ’n groot ekologiese en gesondheidsgevaar, met die 70 selfoontorings wat ons stadsbeplanners oor ons wil laat uitrol. Ons sal onsself moet beskerm teen die stadsbeplanners en die voorgenome ekstra ongeveer 70 selfoontorings en hul besonder gevaarlike seine wat ons nie kan afskakel nie.
In hierdie omstandighede het ek ’n geweldige behoefte aan die ondersteuning en bymekaarkoms van ’n groep.
Ons moet mekaar ondersteun en saamwerk en in ’n groep optree.
Vir hierdie doel open ek my huis elke Woensdagaand om 7 nm. Ons moet saam en effektief optree, of hierdie selfoontorings met al hul nadelige effekte gaan eenvoudig oor ons dorp uitgerol word.
Alle belangstellendes word hiermee uitgenooi. Kontak 021 882 8464 (slegs vanaf 11vm-11nm).
Ons het kordon mense nodig om vir ons dorp en dorpenaars op te staan, teen die beplande en reeds opgerigte selfoontorings.