Sakelui van Paarl tot Somerset-Wes het verlede week by die Root44-mark byeengekom om na die entrepreneur Robert Hersov se mening oor alles van die 2026-munisipale verkiesing tot hoe Amerika gaan help om Suid-Afrika te red, te luister.
Hersov, wat bekend is vir sy omstrede uitlatings en manier om reguit te praat, was Dinsdag 23 September die gasspreker by die Stellenbosch-sakeforum se netwerkgeleentheid.
Volgens Hersov is dit die moeite werd om ten spyte van doodsdreigemente teen hom, teen die ANC en die regering uit te praat.

“As die korporatiewe gemeenskap kan opstaan, en aan die ander kant, as die kerke in Suid-Afrika kan saamstaan en hul stem laat hoor, dink ek ons het twee groot magte wat sal opstaan en hierdie ANC-regering sal aankla vir die vernietiging van ons land oor 30 jaar. Die momentum sal groot genoeg wees om die verkiesing in 2029 te swaai sodat ons hierdie land kan omdraai, en ons kan,” meen Hersov.
Hy meen die beplande sanksies wat Amerikaanse kongreslede teen spesifieke ANC-lede wil instel, is nodig om ‘n ommeswaai in SA te bring.
Volgens Hersov sal pres. Donald Trump se beleid vir Amerika na SA oorspoel en in die lang termyn ‘n aanwins hier wees. “[Trump] gaan dinosourusmedia aanpak en al hierdie mense wat ‘n ‘woke’ kulturele, Marxistiese agenda bevorder – dit wat ons Joods-Christelike samelewing ondermyn. Ek dink die meeste Suid-Afrikaners word deur Christelike beginsels verteenwoordig en dit is die grootste samelewing wat hierdie wêreld nog gesien het. Dit verteenwoordig vryheid van spraak, vryheid van beweging, vryheid van assosiasie, die oppergesag van die reg, asook eiendomsreg.”
VERSKEIE ONDERWERPE
Regeringsrompslomp, die vlak van opvoeding en die “Capexit” was net van die onderwerpe waaroor sakelui Hersov uitgevra het.
Hersov meen daar is “lig aan die einde van die tonnel” en dit begin tydens volgende jaar se munisipale verkiesing en die nasionale verkiesing in 2029 om die regerende party uit te stem.
Sy raad aan sakelui in die tussentyd is om hulself “staat-bestand” te maak en so onafhanklik van die regering te wees – of dit elektrisiteit of die regerende party in hul dorpe is.
Flip Liebenberg, die voorsitter van die sakeforum, het gaste aangemoedig om by die organisasie aan te sluit. “Ons kry baie mense wat na ons uitreik vir hulp – ons doen dit in elk geval, maar ons het lede en meer gewig agter ons nodig. As almal saamstaan, kan ons verandering meebring,” moedig Liebenberg aan.
Vir meer inligting oor die Stellenbosch-sakeforum, besoek gerus die forum-webtuiste hier.



You must be logged in to post a comment.