’n Raakvatter, staatmaker en held; iemand wat die gees van Nelson Mandela in sy gemeenskap uitgeleef en diep spore in die lewe van dié met wie sy pad gekruis het, gelaat het . . .
Só is wyle dr. Richard de Villiers (55) Maandag (18 Julie) onthou tydens ’n boomplantseremonie by Koloniesland.
Die Stellenbosch-gemeenskap is verlede Woensdag ná sy skielike dood in groot skok gelaat. De Villiers, medestigter en hoof van die Stellenbosch Trail Fund (STF) is aan hartversaking dood.
Die spesiale boomplantseremonie is op Mandeladag gehou om De Villiers se lewe en ook sy bydrae as aktiewe burger in Stellenbosch te gedenk.
Die raadslid Carli van Wyk van die Stellenbosch-munisipaliteit, wat die seremonie help organiseer het, het De Villiers as “ ’n groot boom wat geval het” beskryf.
Holden Marshall, ’n direkteur van die STF, het aan Eikestadnuus vertel dat De Villiers altyd probeer het om mense te help sonder om erkenning daarvoor te vra.
“In sy beroep as radioloog, byvoorbeeld, het hy baie mense gehelp sonder om ’n sent te vra, maar dan sou hy vir hulle sê hulle moet in ruil daarvoor iets aan die gemeenskap teruggee, soos as jy kon bak, sou hy jou vra om vir iemand ’n koek te bak in ruil vir sy gratis diens.”
De Villiers was ’n internasionaal erkende radioloog in sport en het al verskeie kere vir die Nieu-Seelandse All Blacks en ander internasionale sportspanne konsulteer.
Volgens Marshall was De Villiers passievol oor die natuur en ekotoerisme – veral in die Stellenbosch-omgewing. “Die Ou Landbousaal was een van Richard se projekte. Die plek was vervalle. Hier het allerhande verkeerde goed gebeur, soos dwelmhandel. Hy was die een wat besluit het om dit te herstel; hy het inisiatief geneem. Vandag is die plek opgeknap en sake word hier gedoen. Dit is nou danksy Richard ’n toerisme-aantreklikheid en hy het nooit erkenning gevra nie.”
Volgens Marshall was dit De Villiers se gewilligheid en entoesiasme dat die Eersterivier tussen Koloniesland en Paul Roos nuwe lewe gekry het.
“Jy kon nie juis hier by die rivier loop nie; dit was glad nie veilig nie. Die bosse het wild gestaan en jy kon skaars die water sien.
“Deur STF het Richard die bosse laat sny, die vullis opgetel, bankies opgerig, paadjies uitgelê en vullisdromme opgesit. Ons het inheemse bome begin plant en aanwysigingsbordjies langs die rivier aangebring sodat stappers en fietsryers kon sien waar hulle is,” voeg hy by.
Marshall het De Villiers in 2016 ontmoet toe hulle fiets gery het. De Villiers was ’n bekende in die fietsrygemeenskap.
Volgens Marshall het De Villiers hom ingetrek om by die STF betrokke te raak.
“Ek het eintlik kom aftree hier. Maar Richard het my oë oopgemaak; my laat besef ons moet nie net vir onsself leef nie; dat ons meer gemeenskapsgeörienteerd moet leef. Dit het my diep geraak.”
Volgens Marshall sal hy De Villiers onthou as iemand wat onselfsugtig en tot voordeel van ander en die gemeenskap opgetree het.
Dawid Botha van Stellenbosch-fietsry het gesê De Villiers was ’n man van durf en deursettingsvermoë.
“As hoof van die Stellenbosch Trail Fund was hy nie net bekend vir die netwerk van fiets-, draf- en stap-paadjies wat teen die hange van Stellenboschberg en elders uitgelê is nie, maar hy sal ook vir die opruim, paadjies en ruim boomaanplantings langs die Eersterivier – veral in Koloniesland – onthou word.”
Unathi Msophi, ’n bestuurder by STF, het gesê hy het De Villiers as ’n vriend gesien. “Ek het hom nooit as my baas beskou nie. Ons was beste vriende by die werk en selfs ná werk, maar daar was natuurlik perke.
“Ons het mekaar se verskille gerespekteer.”
Msophi meen De Villiers was ’n katalisator en sê sy liefde vir ander sal onthou word. “Sy onvoorwaardelike liefde, omgee en liefde vir veral fietsry, en sy manier van altyd uit die pad uit gaan vir ander, sal altyd onthou word.”
De Villiers laat sy vrou, ouers en suster agter sowel as ’n spoor in baie ander wat hom geken het.