Etienne Basson van Idasvallei is passievol oor die natuur en sy gemeenskap.Foto: Angelo Julies


Hy wou nog altyd die natuur en die mens verenig en vandag is dit presies wat hy doen deur die gemeenskap van Idasvallei se geskiedenis deur ­staproetes aan belangstellendes te vertel.

Etienne Basson (33) van Idasvallei is tans by twee niewinsgewende organisasies betrokke waar hy sy liefde vir die natuur en sy passie vir mense bymekaarbring.

Hy het onlangs sy honneursgraad in BSc Omgewingsmonitering en -modellering aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Hy het sy voorgraadse studies in BSc biodiversiteit en ekologie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

Basson is die medestigter en een van die direkteure van die Idasvallei-gemeenskapstaproetes asook die stigter van EnviroLove, ’n niewinsgewende organisasie wat minderbevoor­regte kinders in Lavender Hill in Kaapstad oplei en op staptoere neem.

“Ek hou al van kleins af van die natuur, glo dit of nie, ek wou eers ’n veearts geword het en wou die diere in die natuur red. Maar toe ek op hoërskool kom, het ek van plan verander, want my hartjie is te sag om met beseerde diertjies te werk,” sê hy laggend. Hy het oor die jare heen by verskeie nieregeringsorganisasies vir omgewingsbewusmaking gewerk en was ook by die Wes-Kaapse regering se eenheid vir groenekonomie betrokke.

Basson is ook al benoem vir verskeie eerbewyse in omgewingsake vir sy bydrae tot die omgewing. Die IGS is, onder sy leiding, deur die Wêreldekonomie-forum benoem vir top-innoveerder en as top-10- finalis by die BIE Cosmos Price in Doebai.

In sy persoonlike hoedanigheid is hy deur die Wêreldbeleidsforum, top-50 jong wêreldwye veranderers 2022 aangewys. ’n Toekenning vir Nasionale Jeugontwikkelings­agentskap se roete 2022 is die World Trails Network Youth Ambassador 2022 – 2024.

Basson sê dit gaan nie vir hom oor die erkenning en toekennings nie, dit gaan oor die verandering wat sy werk teweeg kan bring. “Ek is maar agter die skerms, want dit is waar ek dink ek die beste verskil kan maak. Ek wil regtig net hê ons gemeenskap en mense moet eienaarskap neem van hul omgewing om dit te bewaar en te gebruik as ’n baken van hoop en iets wat sosiale verander kan bring.”

You need to be Logged In to leave a comment.